genoeg vir een 20 cm-koek

MERINGUE

  • 8 eierwitte (hou 3 gele vir die vulsel)
  • 630 g (750 ml) strooisuiker
  • 20 ml wit asyn
  • 30 ml mielieblom (Maizena)
  • 30 ml rooswater of 5 ml vanieljegeursel droë roosblare (opsioneel)

VULSEL

  • 3 eiergele (wat jy oorgehou het)
  • 65 g (75 ml) strooisuiker
  • 25 ml koekmeel
  • 25 ml mielieblom
  • 300 ml melk

MERINGUE

Verhit oond tot 140 °C. Klits eierwitte by hoe¨ spoed met elektriese menger tot sagte punte vorm wanneer klitser opgelig word. Voeg strooisuiker stadig by terwyl jy klits. Hou aan klits tot mengsel ’n blink voorkoms het en stywe punte vorm wanneer klitser opgelig word. Vou asyn, mielieblom en rooswater in. Voer twee bakplate met bakpapier uit. Merk ses sirkels van 20 cm in deursnee met potlood op bakpapier. Skep meringuemengsel in spuitsak met skerprandtuit van 1 cm. Vul gemerkte sirkels met meringue. Sprinkel ’n bietjie droë roosblare oor. Bak 30-45 minute of tot buitekant droog is. Laat afkoel.

VULSEL

Klits eiergele, strooisuiker, meel en mielieblom en helfte van melk in ’n mengbak tot gladde mengsel. Bring res van melk tot kookpunt en gooi oor eiermengsel terwyl jy klits. Gooi mengsel deur ’n sif terug in pot en klits oor lae hitte tot gladde, dik tekstuur, soos witsous. Gooi mengsel in skoon bak en plaas kleefplastiek op oppervlak van vla. Laat afkoel tot koud en gestol. Skep vla in spuitsak met skerprand-tuit van 5 mm. Plaas ’n meringue-sirkel op ’n dienbord, spuit vulsel oor meringue en smeer gelyk. Herhaal met res van meringue-sirkels en vla en eindig met vla. Sit voor.