Uit SARIE KOS se Lente 2019:

Dis deesdae mode om iets so doodgewoon soos aartappelskyfies  saam met duur vonkelwyn voor te sit. Dis die kontras wat dit lekker maak. Chips and champagne!

genoeg vir 10

- 20 aartappels

- 500 ml wit asyn

- olyfolie vir sprinkel

- growwe seesout

Sny aartappels met skil aan in baie dun skywe met ’n skerp mandolien. Week aartappelskywe in asyn vir 6 uur (hoe langer, hoe skerper gaan die geur van die asyn in die tjips wees). Verhit oond tot 100 °C. Voer bakplate uit met bakpapier en pak geweekte aartappel in enkellaag op die plate (jy sal dit dalk meer as een keer moet herhaal tot al die aartappelskywe op is). Sprinkel bietjie olyfolie oor en geur met gemaalde sout. Plaas in oond en bak vir 30-35 minute tot bros en bruin. Laat afkoel en pak in lugdigte houers. Sit voor met goeie vonkelwyn.