genoeg vir 12

  • 100 ml louwarm bier
  • 55 ml melk
  • 50 ml strooisuiker
  • 70 g botter, gesmelt
  • 2 eiers
  • 10 g kitsgis
  • 365 g (650 ml) koekmeel, plus ekstra vir oorsprinkel
  • sonneblomolie vir diepbraai
  • karamelsous en gesoute pretzels vir voorsit

VULSEL

  • 300 ml melk
  • 3 eiergele
  • 45 ml mielieblom
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 60 ml strooisuiker

Plaas bier, melk, suiker, botter, eiers,gis en koekmeel in bak van elektriese menger. Klits by hoë spoed met menger se mengspaan (K-beater) tot mengsel in een bal saamkom. Plaas deeg in skoon bak. Bedek bak met kleefplastiek en laat rys deeg op warm plek tot dubbel die volume, sowat 45-60 minute. Sprinkel meel op werkvlak, keer deeg uit en druk plat tot sowat 1 cm dik. Sny met koekiedrukker sirkels van 5 cm in deursnee uit. Plaas op bakplaat wat met meel besprinkel is. Laat rys weer op warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute. Terwyl die deeg rys, maak solank die vulsel: Plaas al die bestanddele in ’n mengbak en klits met ’n draadklitser tot glad. Plaas in middelslagpot oor lae hitte. Roer heeltyd tot mengsel verdik soos ’n witsous. Roer nog 5 minute of tot vlamengsel ’n blink voorkoms kry. Skep in skoon bak en plaas kleefplastiek direk op vla. Laat koel af. Maak nou die doughnuts: Verhit sonneblomolie tot warm in middelslagpot en gooi gerysde deegsirkels in warm olie. Diepbraai 3-4 sirkels op ’n slag 3-5 minute per kant of tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier. Skep afgekoelde vla in spuitsak met 5 mm-tuit. Druk tuit in die kant van die gaar doughnuts en spuit van die vla binne- in. Sit voor met karamelsous en pretzels.