Kies jou gunsteling-mengeldrankie ... Bak jou nuwe gunsteling-koek!

Basiese sponskoek

Dit bevat geen rysmiddel soos bakpoeier nie. Die koek maak staat op die lug in die geklitste eierskuim om te rys.

genoeg vir 1 koek

  • 6 eiers
  • 260 g (325 ml) strooisuiker
  • 115 g (125 ml) botter, gesmelt
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 260 g (460 ml) koekmeel

Verhit oond tot 180 °C. Plaas eiers en suiker in elektriese menger se bak en plaas op pot met kookwater. Klits met draadklitser tot eiermengsel begin louwarm raak – toets met jou vingerpunt. Plaas bak in menger en klits 8-10 minute by hoë spoed tot dik skuimmengsel vorm. Voeg botter, vanielje en meel by eiermengsel en vou versigtig in met slaplemmes. Gooi mengsel in pan of panne wat goed gespuit is met kleefwerende kossproei (kyk by elke variasie watter en hoeveel panne jy nodig het). Bak 25-30 minute of tot goudbruin en gaar. Gebruik die sponskoek in die resepte wat volg. 

Cosmopolitan FOTO: Michael le Grange

Cosmopolitan

As ek aan New York dink, proe ek hierdie drankie van bosbessiesap, vodka en ys.

Jou pan: losboom-ringpan met volume van 2 liter

genoeg vir 1 koek

  • 1 x basiese sponskoek-resep
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 125 ml water
  • 125 ml bosbessiesap (cranberry)
  • 100 ml vodka

VERSIERSEL

  • 500 g (595 ml) strooisuiker
  • 125 ml water
  • 6 eiergele
  • 500 g (545 ml) botter, by kamertemperatuur
  • 5 ml pienk koskleursel
  • klein droë roosknoppies

Bak sponskoek in aangewese pan. Kook suiker, water, sap en vodka 5 minute of tot stroop met 1/3 verminder. Verwyder koek uit oond en gooi stroop oor. Laat afkoel en keer koek uit. Verdeel koek in twee lae met riffelrandmes.

VERSIERSEL: Bring suiker en water tot kookpunt. Maak seker suikerkristalle is opgelos voor die stroop kook. Kook 5 minute. Gebruik ’n elektriese menger en klits die eiergele tot lig. Hou aan klits terwyl warm stroop geleidelik bygegooi word. Klits tot mengsel kamertemperatuur bereik. Klits botter lepelsgewys by en hou aan klits tot romerig. Voeg kleursel by en meng deur. Plaas in yskas tot romerige mengsel vorm, sowat 30 minute. Plaas eerste koeklaag op bord en skep helfte van versiersel bo-op. Plaas tweede koeklaag bo-op en skep oorblywende versiersel op. Sprinkel roosblare oor en sit voor.

Piña colada-rolkoek FOTO: Michael le Grange

Piña colada-rolkoek 

Een van my gunsteling-drankies: klapper, ys en rum.

Jou pan: 2 rolkoekpanne van 30 x 20 cm

genoeg vir 2 koeke

  • 1 x basiese sponskoek-resep
  • 125 ml water
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 100 ml wit rum

VERSIERSEL

  • 230 g (250 ml) sagte botter
  • 250 ml roomkaas
  • 130 g (250 ml) versiersuiker, gesif
  • 100 g fyn klapper plus skaafsels vir voorsit

Bak sponskoek in aangewese panne. Kook water, suiker en rum saam tot stroop met 1/3 verminder het. Verwyder koeke uit oond en sprinkel stroop oor. Keer elke koeklaag uit op ’n klam skoon kombuisdoek. Rol lae op met die kombuisdoek. Laat afkoel.

VERSIERSEL: Klits botter en roomkaas in elektriese menger tot lig en romerig. Voeg versiersuiker en klapper by. Klits goed. Rol koeklae versigtig oop en smeer laag van die roomkaasmengsel oor elke koek. Hou van die mengsel om bo-op elke koek te smeer. Rol koeke weer op en plaas op opdienbord. Versier met oorblywende roomkaasmengsel. Sit voor met klapperskaafsels.

Aarbei-daiquiri-koek FOTO: Michael le Grange

Aarbei-daiquiri-koek

Die hoofgeur van die drankie is rum en dan ook vrugte wat gemeng word met gebreekte ys.

Jou pan: patroon-ringpan met volume van 2 liter

genoeg vir 1 koek

  • 1 x basiese sponskoek-resep 
  • 200 g (250 ml) suiker
  • 250 ml water
  • 100 ml wit rum

VERSIERSEL

  • 500 g (595 ml) strooisuiker
  • 125 ml water
  • 6 eiergele
  • 500 g (545 ml) botter, by kamertemperatuur
  • 10 vars aarbeie, fyngedruk met ’n vurk

Bak sponskoek in aangewese pan. Kook suiker, water en rum 5 minute saam of tot stroop met 1/3 verminder het. Haal sponskoek uit oond en gooi stroop oor koek. Laat afkoel en keer koek uit.

VERSIERSEL: Bring suiker en water tot kookpunt. Kook 5 minute. Gebruik ’n elektriese menger en klits die eiergele tot lig. Hou aan klits terwyl warm stroop geleidelik bygegooi word. Klits tot mengsel kamertemperatuur bereik. Klits botter lepel vir lepel by en hou aan klits tot romerige mengsel vorm. Voeg aarbei-pulp by en meng deur. Plaas koek op opdienbord en skep versiersel oor. Sit voor. 

Mai Tai FOTO: Michael le Grange

Mai Tai

Die geur van lemoen werk mos lekker in byna alles, veral in dié klassieke drankie van lemoen en rum wat herinner aan die ontspanne leefstyl op Polinesiese eilande soos Hawaii en Samoa.

Jou pan: broodpan van 30 x 12 cm

genoeg vir 1 koek

  • 1 x basiese sponskoek-resep
  • sap en gerasperde skil van 3 lemoene
  • 125 g suiker
  • 200 ml water
  • 100 ml wit rum

VERSIERSEL

  • 230 g (250 ml) sagte botter
  • 250 ml roomkaas
  • 130 g (250 ml) versiersuiker, gesif
  • gerasperde skil van 2 lemoene plus ekstra vir garnering

Bak sponskoek in aangewese pan. Kook lemoensap en -skil, suiker, water en rum 5 minute saam of tot stroop met 1/3 verminder het. Gooi stroop oor koek sodra dit uit die oond kom. Laat afkoel en keer uit.

VERSIERSEL: Klits botter en roomkaas saam in bak van elektriese menger tot lig en romerig. Voeg versiersuiker en lemoenskil by. Klits goed. Skep mengsel in spuitsak met ster-tuit. Plaas koek op opdienbord en spuit rosette oor die hele koek. Rasper ekstra lemoenskil oor koek en sit voor. 

Caipirinha FOTO: Michael le Grange

Caipirinha 

Brasilië se nasionale mengeldrankie pronk met die geure van lemmetjie en cachaça-rum. Ek sit ’n tikkie kruisement by.

Jou pan: 3 x 20 cm- ronde losboom-panne

genoeg vir 1

  • 1 x basiese sponskoek-resep
  • 3 lemmetjies se sap en gerasperde skil
  • 100 ml cachaça- of donker rum
  • 100 g (125 ml) suiker
  • 125 ml water

VERSIERSEL

  • 500 g (595 ml) strooisuiker
  • 125 ml water
  • 6 eiergele
  • 500 g (545 ml) botter, by kamertemperatuur
  • 5 ml groen koskleursel
  • 100 g pistasieneute, fyngekap
  • 100 g mentsjokolade, gerasper

Bak sponskoek in aangewese panne. Kook sap en skil, rum, suiker en water 5 minute saam of tot stroop met 1/3 verminder het. Verwyder koeke uit oond en verdeel stroop tussen koeke. Laat afkoel en keer uit. Verdeel elke koek in twee lae met riffelrandmes.

VERSIERSEL: Bring suiker en water tot kookpunt. Kook stroop 5 minute. Gebruik ’n elektriese menger en klits die eiergele tot lig. Hou aan klits terwyl warm stroop geleidelik bygegooi word. Klits tot mengsel kamertemperatuur bereik. Klits botter lepelsgewys by en hou aan klits tot romerig. Voeg kleursel by en meng deur. Plaas in yskas tot romerige mengsel vorm, so 30 minute. Plaas eerste koeklaag op bord en skep 1/6 van versiersel bo-op. Plaas tweede koeklaag bo-op en skep nog 1/6 versiersel bo-op. Herhaal tot al die koeklae op is. Eindig met versiersel. Sprinkel neute en sjokolade bo-oor koek. Sit voor.