SARIE KOS: Februarie / Maart 2014: "Die land se beste brownie"

WENNER: Karien van den Berg

Brownies is die een lekkerny wat ek nog altyd graag wou baasraak, want dis Daan, my man, se gunsteling.

“Dit moet net reg wees,” sê hy altyd – chewy aan die binnekant, met ’n krakerige bolaag. Ek het dit al dikwels probeer, maar nog altyd sonder sukses. Party pogings was te veel soos koek, en ander het herinner aan sjokoladerotsies ...

Met ons tweede huweliksherdenking ophande het ek besluit dis nou of nooit. Ek het in my resepteversameling rondgesoek en twee resepte gekombineer: een wat ek iewers gekry het en een uit my skoonsuster se geheime versameling wat sy met my gedeel het as geskenk met mykombuistee.

Op die groot dag kon ek my man uiteindelik bederf met die perfekte weergawe van sy gunsteling – tuisgebak!

Ek noem die dekadente eetgoed rooiborsduif-brownies na Breyten Breytenbach se gedig, want dit was my rooi boodskap aan Daan.

– Karien van den Berg

Resep: Rooiborsduif-brownie

sowat 12 blokkies

• 225 g (245 ml) botter

• 300 g goeiegehalte-donkersjokolade

• 3 eiers

• 225 g (265 ml) strooisuiker

• 30 ml sterk swart koffie

• 75 g (130 ml) koekmeel

• knippie sout

• 100 g haselneute, gerooster

• 100g pekanneute, gerooster

• 5 ml vanieljegeursel

• 45 ml (3 groot eetlepels) Nutella, effens versag in die mikrogolfoond

Voer ’n 27 x 19 cm-koekpan uit met tinfoelie. Verhit oond tot 180 °C. Smelt botter en sjokolade op lae hitte in ’n mikrogolfoond. Roer elke 30 sekondes. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Klits eiers, suiker en koffie tot romerig en glad in ’n mengbak. Voeg sjokolademengsel geleidelik by. Sif meel en sout oor sjokolademengsel en vou versigtig in. Voeg neute en vanielje by. Skep helfte van mengsel in uitgevoerde pan. Drup lepels vol loperige Nutella bo-oor. Gooi res van beslag versigtig bo-oor, sodat Nutella ’n lagie in die middel vorm. Die laag smelt weg tydens die bakproses, maar dit sorg vir daardie ekstra bietjie “kou” in die middel. Bak 40 – 45 minute. Haal uit oond, maar los in pan om af te koel. Haal uit pan en maak heeltemal toe met tinfoelie. Bêre in yskas, verkieslik tot volgende dag. Sny in blokke en sit voor met sjokoladesous van jou keuse.

*Vanaf 2009 tot 2014 het SARIE KOS maandeliks die beste resepte gesoek. Hier deel ons wenner se resepte uit die argiewe.