(4 porsies)

4 flan-bakkies, 15 cm in deursnee

Kors

  • 1 pak blaardeeg

Voer die flan-bakkies uit met die blaardeeg. Prik die bodem goed met ’n vurk. Plaas bakpapier bo-op en vul met boontjies. Bak vir 15 minute teen 200 °C. Verwyder die papier en boontjies en laat die tertbakkies vir nog 5-10 minute bak. Dit moet heeltemal gaar wees.

Vulsel

  • 60 ml olyfolie
  • 20 ml botter
  • 4 groot rooi-uie, in dun skywe gesny
  • 5 ml bruinsuiker
  • 15 ml balsemieke asyn
  • 15 ml sojasous
  • 200 g wit sampioene, in dun skywe gesny
  • 1 huisie knoffel, fyngekap
  • 30 ml pietersielie, fyngekap
  • 100 g sagte bokmelkkaas
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

Verhit 15 ml van die olyfolie en die helfte van die botter in ’n pan. Voeg die uie by en bedek met ’n deksel. Laat kook vir sowat 15 minute oor lae hitte. Roer nou en dan. Verwyder die deksel en voeg die bruinsuiker by. Laat kook tot die uie begin karamelliseer. Voeg die asyn en sojasous by en laat kook tot dit verdamp het. Geur met sout en swartpeper. Verhit 30 ml van die olyfolie en die res van die botter in ’n ander pan. Voeg die sampioene en knoffel by en braai vir 6 minute tot die sampioene mooi bruin is. Voeg die sampioene by die uie, saam met die gekapte pietersielie. Vul die tertbakkies met die vulsel en sit so twee snye bokmelkkaas bo-op elke tertjie. Sprinkel die res van die olyfolie oor. Bak die tertjies vir 5-8 minute teen 200 °C tot die kaas begin bruin word.