(6 porsies)

  • 2 uie, fyngekap
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 60 ml olyfolie
  • 3 x 400 g geblikte kersietamaties
  • 5 ml suiker
  • 2 hande vol vars basiliekruid, stukkend geskeur
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • sowat 6 tot 8 lasagne-velle (afhangend hoe groot jou bak is)
  • 250 g mascarponekaas
  • 250 g swart sampioene
  • 250 g wit sampioene
  • 30 ml botter
  • 400 g sagte mozzarellakaas, stukkend geskeur

Voorverhit jou oond tot 190 °C. Braai die uie en knoffel in ’n groot kastrol in die olyfolie tot sag en deurskynend. Voeg die geblikte tamaties by en geur met sout en swartpeper. Laat die sous oop kook vir sowat 45 minute tot dik. Haal van die stoof af en voeg die basiliekruid by. Sny die sampioene in dik skywe en braai in die botter vir 10 minute. Gooi ’n laag van die tamatiesous in ’n groot oondbak. Pak dan ’n laag van die lasagne-velle en dan sowat 125 g (halwe bakkie) mascarponekaas en ’n derde van die mozzarellakaas. Sit sampioene bo-op. Herhaal proses met die lasagne-velle, tamatiesous en kase. Maal nog swartpeper bo-oor en bak vir sowat 40 minute. Maak net seker dat die pasta sag is as jy met ’n mes daarin druk.