Die Desember 2013/Januarie 2014-uitgawe van SARIE KOS is nou op die rak!

"Lank voor Kersdag begin ek al beplan aan ons spyskaart vir die groot ete. Die een ding wat ek elke jaar vir my gesin moet maak, is ’n geglasuurde ham en trifle – en hulle wil niks weet van ’n slag iets anders probeer nie. My dogters sê altyd wanneer hulle die ham in die oond ruik, wéét hulle dis Kersfees.

"Vanjaar het SARIE se redakteur, Michélle van Breda, gevra dat ek hoenderpastei insluit by die Kerskos-storie omdat haar familie- Kersfees nooit daarsonder is nie. Ek het al so baie hoenderpasteiresepte vir SARIE KOS gemaak dat ek lank moes dink voordat ek die idee vir ’n nuwe soort hoenderpastei gekry het.

"My inspirasie het gekom van “Beef Wellington” – beesfilet gerol in blaardeeg – maar ek het natuurlik hoender gebruik en ’n pastei gemaak. Dit was ’n baie lekker uitdaging en toe ek die pastei vir die eerste keer uit die oond haal, het ek geweet hier is ’n wenner. So, as jy jou mense kan oorreed dat julle iets anders met jul Kershoenderpastei moet maak, probeer hierdie resep (bl. 30).

"Dié tyd van die jaar is die meeste van ons moeg, maar tog lus vir bak. Toe ek aan ’n nagereg vir die Kersspyskaart moes dink, was ek juis die aand nie meer op my beste nie. Ek wou graag ’n sjokoladekoek maak pleks van ’n trifle, maar net die blote idee om ’n sjokoladekoekresep uit te werk het vir my na te veel moeite geklink. Gelukkig kom Ina Paarman se boks sjokoladekoek-mengsel tot my redding. Ek het rosyntjies in brandewyn geweek, fyn amandels bygevoeg en ’n heerlike Kerskoek gebak.

"Afgesien van die brandewyn-sjokoladekoek (op die voorblad en bl. 32) het ek 30 soet terte (bl. 36) vir hierdie uitgawe gebak. Dit het dae se gebakkery en proëery in my kombuis beteken, maar alles was die moeite werd. Ek het die gewilde Hertzogkoekie in ’n tert omskep, en selfs brownie- en malvapoeding-resepte het terte geword. Ek het die bakkery in hierdie uitgawe nog ’n stappie verder geneem met die artikel Bak met Biltong op bl. 104. My gunsteling is die biltong-en-bloukaas-tertjies (bl. 108), want die kombinasie werk besonder goed. Ook Tannie Poppie deel haar beste soetgebak met ons.

"Ons Kersuitgawe is propvol resepte, wenke en selfs dekor-idees. Geniet dit!

"Ek wens julle ’n heerlike vakansie en Kersfees toe."

Barbara Joubert

Waarna jy kan uitsien!

30 soet terte

011213SKH036.pdf

Kersfees in jóú kombuis

011213SKH018.pdf

011213SKH019.pdf

Bak met biltong

011213SKH104.pdf

3 spyskaarte vir Oujaar: Vleis, slaai, aartappel & brood

011213SKH072.pdf 011213SKH073.pdf

14 idees met Kers-oorskiet

011213SKH046.pdf

Bly gesond met calamari-waatlemoenslaai en framboosgemmerbier

011213SKH084R.pdf

Barbara praat met Peter Veldsman oor sy nuwe restaurant, Emily's in Kloofstraat, Kaapstad