YOLANI ABRAHAMS, SARIE Voorbladgesig 2017

Ek het altyd twee of drie keer gedink voor ek ’n uitdaging aanvaar het, maar ná SARIE Voorbladgesig het ek meer guts om dinge aan te pak. Nou wil ek beter doen en voel goed oor myself as vrou. Dankie, SARIE, dat jy my deelgemaak het van jou storie!

Herman Lensing en Yolani Abrahams
Herman Lensing en Yolani Abrahams

Yolani se donkersjokoladekoek

genoeg vir 1 drielaagkoek

KOEK

  • 8 eiers
  • 400 g (500 ml) suiker
  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 120 ml kakao
  • 1 knippie sout
  • 250 ml sonneblomolie
  • 250 ml kookwater
  • 1 blik (380 g) ingedampte melk
  • 200 g (250 ml) suiker

SJOKOLADEMOUSSE-VERSIERSEL

  • 300 g donkersjokolade, fyngekap
  • 150 ml room
  • 3 eiergele
  • 6 eierwitte
  • 50 g (60 ml) strooisuiker

KOEK

Verhit oond tot 180 °C. Voer drie 20 cm-losboompanne met bakpapier uit en spuit deeglik met kleefwerende kossproei. Klits eiers en suiker tot lig en romerig. Sif droë bestanddele saam en meng by eiermengsel in. Meng olie en kookwater en meng by die res van die beslag. Verdeel beslag tussen panne en bak vir 30-35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Verhit ingedampte melk en suiker tot kookpunt. Verdeel die sous tussen die koeke sodra dit uit die oond kom en laat afkoel tot koud. Keer uit.

VERSIERSEL

Smelt sjokolade en room saam in glasbak oor pot met kokende water. Laat effens afkoel en klits eiergele een vir een by (as die mengsel dalk skif, gooi ’n bietjie ekstra room by). Klits eierwitte tot sagte punte vorm en voeg strooisuiker bietjies-bietjies by. Vou eierwitte by sjokolade in en meng goed. Laat stol in yskas vir sowat 1 uur. Plaas eerste koeklaag op bord en smeer derde van sjokolademousse oor. Plaas nog ’n koeklaag bo-op, gevolg deur nog ’n derde van die mousse. Plaas laaste koeklaag bo-op en rond af met laaste derde mousse. Sif kakaopoeier oor.