Ons dress dié klassieke nagereg van die 70’s op in ’n rok van sjokolade en vars bessies.

genoeg vir 8

KOEKIES

• 6 eiers, geskei

• 5 ml vanieljegeursel

• 115 g (140 ml) strooisuiker

• 140 g (250 ml) koekmeel

• versiersuiker vir oorsif

VULSEL

• 25 ml gelatien

• 120 ml kookwater

• 100 ml suurlemoensap

• skil van 1 suurlemoen

• 385 g-blik kondensmelk

• 385 g gladde maaskaas

• 100 g donkersjokolade, gesmelt

• 500 ml room

• 100 ml sjokoladesous vir voorsit

STAP 1

Verhit oond tot 180 °C. Klits eiergele, vanielje en helfte van suiker tot lig en skuimerig. Hou eenkant.

STAP 2

Klits eierwitte met skoon klitser tot sagte punte vorm en gooi suiker geleidelik by terwyl jy klits. Hou aan klits tot blink en styf.

STAP 3

Vou eiergeel- by eierwitmengsel in. Sif meel oor. Vou met metaallepel in tot glad.

STAP 4

Maak potloodmerke 10 cm lank en 2 cm uit mekaar op mat-kant van bakpapier. Draai papier om. Spuit deeg in lang worse op merke. Sif versiersuiker oor en bak tot goudbruin en bros, sowat 8 – 10 minute.

MAAK SÓ KLAAR

Voer 20 cm- ronde koekpan met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Pak koekies teen die rand van die pan in ronde sirkel. Meng gelatien en water en roer tot gelatien opgelos is. Meng suurlemoensap en -skil met kondensmelk. Voeg maaskaas by en meng tot gladde mengsel met draadklitser. Voeg sjokolade by en meng goed. Voeg by kondensmelkmengsel en meng deur. Klits room tot sagte punte vorm en vou by kondensmelkmengsel in. Gooi in uitgevoerde pan en plaas 4 – 6 uur of oornag in yskas om te stol. Keer uit op opdienbord. Skep sjokoladesous oor en versier met meringues. Sit voor.