(4 porsies)

  • 30 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 80 ml witwyn
  • 200 ml goeie hoenderaftreksel
  • 250 ml room
  • knypie saffraan
  • hand vol pietersielie, grofgekap
  • 200 g stokvis, in blokkies gesny
  • 200 g steurgarnale, doppe verwyder
  • 500 g heel mossels
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 12 warm crostini's

Verhit olyfolie in 'n groot pot tot warm. Voeg ui en knoffel by. Braai liggies vir sowat 5 minute of totdat dit begin verkleur. Voeg witwyn by en laat kook weg. Gooi aftreksel, room, saffraan
en pietersielie by. Verlaag hitte en laat prut stadig vir 15 minute. Plaas res van die bestanddele in die pot en sit deksel op. Laat sop vir 8 -10 minute kook, of totdat die vis gaar is en al die mosseldoppe oopgegaan het. Geur goed met sout en swartpeper. Sit sop voor saam met warm crostini's.

Onthou: Gooi alle mossels wat nie oopgegaan het nie weg. Hulle is nie reg om te eet nie.

So maak jy...crostini

  1. Gebruik 'n skerp mes en sny 'n Franse baguette in snye van sowat 5 mm dik.
  2. Smeer elke sny aan weerskante met botter.
  3. Braai in 'n warm pan tot alkant goudbruin en bros - sowat 2 - 3 minute per kant.

Sop in 'n kits...
Hier is 'n paar blink idees vir 'n vinnige sop. Elke resep maak 2 porsies.
 

TAMATIESOP
Rooster 200 g kersietamaties, 2 knoffelhuisies, 30 ml olyfolie en 10 ml gekapte tiemie teen 200 °C vir 15 minute of tot sag. Meng met 250 ml room in jou voedselverwerker tot 'n gladde puree. Verhit weer en geur goed met sout en peper. Sit warm voor.

PREIESOP
Verhit 30 ml olyfolie en braai 200 g gekapte spek tot bros. Voeg 5 gekapte preie by en braai vir nog 5 minute. Gooi 250 ml hoenderaftreksel by en laat prut stadig vir 10 minute. Verwerk tot 'n gladde puree en geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper.

SAMPIOENSOP
Verhit 30 ml olyfolie tot warm. Braai 200 g bruin sampioene, origanum en 2 knoffelhuisies, alles gekap, tot bruin en gaar. Voeg 250 ml room by en bring tot kookpunt. Verwerk tot 'n gladde puree en geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper.