Die tema van ons troudag was ‘laat daar lag wees’,” vertel Shaneen Visagie, ’n leerling-rekenmeester wat vroeg in die lente “vir altyd” belowe het aan Stéfan Conradie, ’n produkbestuurder in die sagtevrugtebedryf. En daar ís gelag. “Die laggery het sommer al in die kerk op Stellenbosch begin toe ek nie Stéfan se ring aan sy vinger kon kry nie.” En dit het aangehou by die onthaal, ’n buffet-ete, toe ’n bekende grapverteller en familievriend, Arno van Zyl, sy stories begin vertel het. By dié jolige bruilof het die bruidspaar sommer met die intrapslag die dansbaan geopen. “Hiervoor het ons ’n staande applous by ons 180 gaste gekry,” sê Shaneen, wie se pragrok van sy en geboorde Spaanse kant met Swarovski-kristalle afgewerk is. “Die kristalle het die rok baie spesiaal laat voel en het vreeslik mooi geblink in die son,” sê sy. Haar raad vir bruide wat ook ’n lentetroue in die Kaapse Wynlande wil hê, is om te wag tot einde Oktober, want “dit is eers dán wanneer die wingerde mooi groen en die bome vol jong blaartjies is