Resepte:

  • Sappige kebabs van dye
  • Groen, groener, hoender
  • Hoender-en-mielie-frikkadelle
  • Bruinrys, hoender en groente
  • Hoender in geurige sop 
Sappige kebabs van dye FOTO: Willem Lourens

Sappige kebabs van dye

Gestoomde hoender is geneig om droog te wees. Maak die kebabs van hoenderdye, dis ’n sappiger snit. Die gereg is lekker met ’n slaai of oondgebakte patats.

genoeg vir 6

  • 18 (900 g) ontbeende hoenderdye sonder vel
  • 6 hout-kebab-stokkies
  • 1 cm-stuk vars gemmer, fyngerasper
  • 2 knoffelhuisies, baie fyn gekap
  • hand vol koljander
  • 60 ml sojasous
  • 100 ml beesaftreksel
  • 1 rooi brandrissie
  • sout en varsgemaalde swartpeper 

Ryg hoenderdye op kebab-stokkies (3 per stokkie). Meng res van bestanddele. Pak kebabs op groot bakplaat wat oor oop vlam geplaas kan word. Gooi sous oor hoender en maak plaat toe met foelie. Bring tot kookpunt oor oop vlam. Verlaag hitte effens tot sous liggies prut. Stoom 15-20 minute of tot hoender sag en gaar is. Sit voor met pansous.

ONTLEDING PER PORSIE: kilojoules 739,2; koolhidrate 3,9 g; proteïen 37,5 g; vet 1,5 g 

Groen, groener, hoender FOTO: Willem Lourens

Groen, groener, hoender

Ek maak gereeld hierdie gereg. Ek hou die pakkies in my yskas en as ek van die werk af kom, stoom ek dit gou-gou gaar.

genoeg vir 4

  • 4 stukke bakpapier van 30 x 30 cm elk
  • 170 g vars aspersies
  • 24 baba-preie
  • 4 hoenderdy- en boudporsies, sonder vel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 1 x 410 g-blik laevet-klappermelk
  • 1 x 80 g-sakkie groenkerriepasta

Verhit oond tot 180 °C. Pak bakpapier op 4 bakplate. (Jy kan een groot pakkie maak met alles in of 4 individuele pakkies.) Pak aspersies en preie in die middel van elke vel. Plaas hoenderporsies bo-op groente. Geur hoender met sout en peper. Meng klappermelk en kerriepasta. Gooi bietjie van klappermengsel oor elke hoenderporsie. Bring papier se linkerkant oor na regterkant en rolvou stewig toe. Rolvou sykante ook toe om pakkies te maak. Plaas in oond en bak 15-20 minute of tot hoender gaar gestoom is. Plaas op opdienbord en sit voor.

ONTLEDING PER PORSIE: kilojoules 1 211; koolhidrate 20 g; proteïen 35,1 g; vet 8,6 g

Hoender-en-mielie-frikkadelle FOTO: Willem Lourens

Hoender-en-mielie-frikkadelle

Maak genoeg hiervan, want jy gaan nog en nog wil skep!

genoeg vir 4

  • 6 heel mielies
  • 400 g hoenderborsies
  • hand vol kruisement, gekap
  • 1 x 2 cm-stuk vars gemmer, geskil en fyngerasper
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 brandrissies, fyngekap
  • 60 ml soet sojasous
  • 45 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 200 ml hoenderaftreksel

Bring ’n pot met water tot kookpunt en kook mielies tot gaar, 8–10 minute. Sny die gaar mieliepitte met ’n skerp mes van die stronk af. Plaas hoenderborsies, kruisement, gemmer, knoffel en rissies in ’n voedselverwerker en verwerk tot tekstuur van growwe maalvleis. Voeg sojasous en olyfolie by en meng goed. Geur met sout en swartpeper. Vorm ronde balletjies van mengsel, so groot soos jy verkies. Sit in oondbak en gooi hoenderaftreksel oor. Maak bak toe met foelie en plaas op warm plaat tot aftreksel begin kook en stoom. Verlaag hitte en laat stoom 15-20 minute. Sit warm voor met ’n verskeidenheid van gestoomde groen en blaargroentes.

ONTLEDING PER PORSIE: kilojoules 1 375; koolhidrate 30,2 g; proteïen 28,5 g; vet 12,8 g

Bruinrys, hoender en groente FOTO: Willem Lourens

Bruinrys, hoender en groente

Jy stoom eers die rys en hoender halfpad gaar voor jy die groente boop stoom. Dit lyk baie indrukwekkend, maar dis heel maklik.

genoeg vir 6

  • 250 ml bruinrys
  • 750 ml hoenderaftreksel
  • 400 g hoender sonder vel, in klein stukkies gesny
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 60 ml sojasous
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 6 groot murgpampoentjies

Plaas rys en aftreksel in groot pot. Bring tot kookpunt en kook 5 minute. Voeg res van bestanddele behalwe murgpampoentjies by en meng deur. Kook 10-15 minute of tot hoender en rys gaar is. Skep rysmengsel in groot plat bak van jou keuse. Gebruik mandolien of skerp mes en sny murgpampoentjies in die lengte in lang dun repe. Pak repe regop en styf teen mekaar in sirkel bo-op rysmengsel. Plaas ’n kleinbordjie onderstebo in dieselfde pot waarin rys gaargemaak is. Gooi 250 ml (1 koppie) water in pot en plaas bak met rysmengsel en groente bo-op bordjie. Maak pot toe en bring water in pot tot kookpunt. Verlaag hitte tot prut en stoom rysmengsel en groente 8-10 minute of tot groente net gaar is. Lig bak uit pot en sit voor.

ONTLEDING PER PORSIE: kilojoules 1 042; koolhidrate 35,8 g; proteïen 21,1 g; vet 1,7 g

Hoender in geurige sop FOTO: Willem Lourens

Hoender in geurige sop 

Moenie dink ’n kragsop (consommé) smaak afgewater nie. Dis ’n heerlike, gesonde manier van eet.

genoeg vir 4

  • 20 ml sesam-olie
  • 2 knoffelhuisies, gekap
  • 1 cm-stuk vars gemmer, gerasper
  • 15 ml miso (sojaboonpasta)
  • 2 liter hoenderaftreksel
  • 80 g droë sjiïtake-sampioene
  • 1 brandrissie, fyngekap
  • 60 ml ligte sojasous (light soy)
  • 6 hoenderporsies sonder vel

Verhit olie in ’n groot pot tot warm. Voeg knoffel, gemmer en miso by. Roerbraai 2-3 minute of tot geurig. Voeg hoenderaftreksel en sampioene by. Roer deur en bring tot kookpunt. Kook 20-25 minute of tot geurig. Gooi mengsel deur ’n sif en gooi sif se inhoud weg. Bring aftreksel weer tot kookpunt en voeg brandrissie en sojasous by. Plaas hoenderporsies in aftreksel en maak pot toe. Laat 15-20 minute stadig stoom of tot gaar. Sit voor met vars koljanderblare en sprietuie.

ONTLEDING PER PORSIE: kilojoules 930,8; koolhidrate 29,6 g; proteïen 33,5 g; vet 7,2 g