In Marokko word hoender gaargemaak in ’n tagine, waarin die vleis stadig gekook word vir ’n heerlike geurige gereg. Ons doen dit só.

genoeg vir 6

• 5 kardemompeule

• 10 ml fyn kaneel

• 20 ml vinkelsaad

• 10 ml fyn koljander

• 5 ml gedroogde brandrissie

• 45 ml olyfolie

• 1 ui, gekap

• 2 knoffelhuisies, gekap

• 8 hoenderstukke sonder vel

• 1 x 400 g-blik tamaties

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 100 g groen olywe, ontpit

• amandelvlokkies en koeskoes vir voorsit

Verhit oond tot 180 °C. Maak speserye fyn met ’n stamper en vysel. Verhit olie tot warm in middelslag- oondvaste pot. Voeg ui en knoffel by. Braai 5 minute of tot begin verbruin. Voeg speserymengsel by en braai 2 minute. Plaas hoenderstukke boop speserye en braai tot goudbruin. Draai om en braai nog ’n paar minute tot goudbruin. Voeg tamatie by en geur goed met sout en peper. Sit deksel op en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en plaas in oond vir 1 uur of tot vleis van been afval. Voeg olywe by. Sit voor met amandelvlokkies en koeskoes.