Hoe maak jy 'n bruschetta?

  1. Sny brood in snye van ongeveer 2 cm dik.
  2. Maak ’n riffelpan baie warm op ’n plaat en sit een sny brood in die pan en druk dit effens plat met ’n eierspaan.
  3. Draai om en rooster aan die ander kant.
  4. Lig uit die pan, en moenie bekommerd wees as die rante effens gebrand is nie.
  5. Sny ’n knoffelhuisie in die helfte en vryf oor die sny brood.
  6. Gooi heelwat olyfolie oor.

Suurlemoen-hoender met koljander-jogurt bruschetta
Ek het ontbeende hoenderagterboudjies gebruik, maar jy kan ook die borsies gebruik. As jy boudjies gebruik, benodig jy 6 vir 6 porsies. As jy hoenderborsies gebruik, sal 3 tot 4 voldoende wees. Sny die hoender in blokkies. Meng 2 knoffelhuisies (fyngedruk) met die sap van 2 suurlemoene. Marineer die hoender vir ’n halfuur. Braai die hoender in olyfolie en 1 eetlepel botter tot bruin en gaar. Geur met sout en peper. Laat dit afkoel. Meng 100ml Griekse jogurt, 1 eetlepel suurlemoensap en ’n hand vol gekapte vars koljander. Sit die hoender op die bruschetta met ’n eetlepel jogurt bo-op. Garneer met ’n takkie vars koljander.