genoeg vir 1 groot tertkors

  • 280 g (500 ml) koekmeel
  • 155 g (170 ml) botter
  • 30 g (60 ml) versiersuiker
  • 45 ml water

Vulsel

  • 1 x 385 g-blik kondensmelk
  • 250 ml vars suurlemoensap
  • 1 x 380 g-blik karamelkondensmelk
  • 4 eiers, geskei
  • 2 ml kremetart
  • 250 g (300 ml) strooisuiker
  • 10 ml mielieblom

Plaas meel, botter en versiersuiker in voedselverwerker se mengbak. Verwerk by hoë spoed tot dietekstuur van fyn broodkrummels. Terwyl masjien loop, gooi water in dun straaltjie by tot alles in een bal saamkom. Haal deeg uit menger en plaas vir 10 minute in yskas om te rus. Verhit oond tot 180 °C. Sprinkel]dun lagie meel op werkoppervlak en rol deeg tot sowat 3 mm dik uit. Voer ’n gesmeerde tertpan van 25 cm in deursnee daarmee uit. Bak blind vir 15 minute (voer die deeg met bakpapier uit en vul die bodem met rou rys of bone). Haal rys en papier uit en bak nog 5 minute.

Vulsel

Meng kondensmelk, suurlemoensap, karamel en eiergele tot glad met ’n elektriese handklitser. Gooi in gebakte kors. Klits eierwitte en kremetart met elektriese klitser tot stywe punte vorm. Gooi strooisuiker geleidelik by terwyl jy klits. Vou mielieblom versigtig in. Skep meringue bo-op vulsel en plaas tert terug in warm oond vir 15 minute. Verlaag dan hitte tot 150 °C. Bak nog 20 minute. Haal uit oond en laat afkoel in yskas tot yskoud en gestol. Sit voor.

LEES OOK:

Roomys-meringuekoek