• 1 eierwit
  • 30 ml olyfolie 
  • 6 velle filodeeg 
  • ongeveer 75 ml droë broodkrummels 
  • 75 ml korrelmosterd
  • 115 g gerasperde parmesaankaas
  • 8 tot 10 Italiaanse tamaties 
  • 2 huisies vars knoffel, fyngedruk 
  • so 8 vars basiliekruidblare

Voorverhit die oond tot 200 °C en plaas jou oondrak bo in die oond. Spuit ’n bakplaat met Spray & Cook. Klits die eierwit en olyfolie saam in ’n klein bakkie. Gebruik ’n groot bakplaat en sit een laag filodeeg daarop. Smeer die deeg met die eierwit-en-olyfoliemengsel (gebruik ’n kwassie). Sprinkel 1 eetlepel van die broodkrummels. Sit nou nog ’n laag filodeeg bo-op en herhaal die proses met al die deeg, maar moenie die laaste vel deeg smeer nie. Smeer die mosterd op die deeg, maar nie tot teen die kante nie - hou so 3 cm om die rand oop. Sprinkel die parmesaankaas oor. Sny die tamaties in skywe en rangskik bo-op. Skeur die basiliekruidblare en sprinkel saam met die knoffel bo-oor. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Smeer die oop rand van die deeg met ekstra olyfolie en vou dit na die binnekant van die tamaties om ’n rand te vorm. Bak vir 15 tot 20 minute tot mooi goudbruin. Laat vir 5 minute afkoel voor jy dit afhaal.