• 500 g (280 ml) witbroodmeel
  • 5 ml sout
  • 1 pakkie (10 g) kitssuurdeeg
  • 15 ml olyfolie
  • 375 ml louwarm water
  • 250 g mozzarella-kaas, in blokkies gesny
  • 400 g klein oondgedroogde rosa-tamaties (oondgedroogde tamaties)

Sit meel, sout en suurdeeg in 'n mengbak. Meng deur. Voeg olyfolie en water by. Meng deur en plaas die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak. Knie die deeg goed vir minstens 10 minute tot elasties. Smeer 'n skoon mengbak met 'n klein bietjie olyfolie en plaas deeg daarin. Smeer nog 'n klein bietjie olyfolie op die deeg en maak toe met kleefplastiek. Laat rys op 'n warm plek tot dubbel die hoeveelheid. Dit kan tot 1½ uur neem. Knie deeg af en vorm dit in 'n ronde sirkel. Die deeg moet so 6 cm dik wees. Plaas die kaas in die middel van die deeg en vou die kaas van die buitekant af toe met die deeg sodat dit binne-in die deeg is. Maak seker die deeg verseël die kaas. Sit die brood met die verseëlde kant na onder op 'n gesmeerde bakplaat. Rangskik die oondgeroosterde rosa-tamaties bo-op en maak solank toe met 'n skoon afdrooglap. Verhit oond tot 180 °C, terwyl brood weer rys tot dubbel die hoeveelheid. As daar van die tamaties afval, druk dit net weer op die brood vas. Sprinkel met 'n klein bietjie olyfolie en plaas in warm oond. Bak vir 30 - 35 minute. Om te toets of die brood gaar is, kan jy daarop klop. As dit hol klink, is dit gaar. Sit warm voor.