genoeg vir 6

  • 115g tamatiepasta
  • 2 liter kookwater
  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 duimnael-grootte stuk gemmer, fyngerasper
  • 360 g (500 ml) arborio-rys
  • 250 ml witwyn
  • 250 ml sojamelk
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 500 g kersietamaties, gehalveer
  • hand vol basiliekruidblare

Bring tamatiepasta en water tot kookpunt in aparte pot. Hou tamatiewater eenkant warm. Verhit olyfolie tot warm in groot pot. Voeg ui, knoffel, gemmer en rys by. Roerbraai 1-2 minute of tot ui begin verbruin. Gooi wyn by en roer tot wyn weggekook het. Gooi 500 ml tamatiewater by rys en meng deur. Maak pot toe en laat kook 5 minute of tot rys vloeistof geabsorbeer het. Herhaal met res van tamatiewater, 500 ml op ’n slag. Sodra al die vloeistof geabsorbeer is en rys byna deurgaar is, voeg melk by en bring tot kookpunt terwyl jy roer. Hou aan kook vir ’n paar sekondes of tot romerige mengsel vorm. Proe en geur met sout en peper. Skep in opdienbak en pak kersietamaties bo-op. Sprinkel vars basiliekruid oor en sit voor.

Sojamelk

REGMERK – Dis ’n goeie bron van proteïen, vitamien A, B12 en kalium. Probiotiese en gefermenteerde sojamelk is selfs ’n beter keuse. Dit het nie cholesterol en ook nie laktose nie. Die smaak en tekstuur maak dit ideaal vir smoothies en graankos, en dit kan koeimelk in baie resepte vervang.

SUUR KLANKIE – Dit kan verryk wees met kalsium, maar is nie ’n natuurlike bron daarvan nie. Te veel kan ’n probleem wees as jy onder meer tiroïed-probleme het. Hoër innames van soja-gebaseerde kosse is boonop in ’n Harvard-studie gekoppel aan vrugbaarheidsprobleme en laer spermtellings. Soja is ook ’n algemene allergeen. Sommige gegeurde soorte het baie kJ, suiker en bymiddels. Koop dus die organiese, onversoete weergawe.