(4 pizzas)

Vir die tamatie-sous

  • 10 ml olyfolie
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 2 blikke (400 g elk) gekapte tamaties
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 ml droë gemengde kruie
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Verhit die olyfolie in ’n diep pan. Braai die ui tot sag - dit sal sowat 3 minute neem. Voeg die geblikte tamaties en knoffel by. Geur met die gemengde kruie, sout en swartpeper. Laat die sous oop kook - moenie ’n deksel opsit nie. Kook vir sowat 10 minute tot die sous dik is. Skep dit uit en laat afkoel. Verhit intussen jou oond tot 200 °C. Maak seker jou oondrak is in die middel. Wanneer die sous koeler is, kan jy die pizza aanmekaarsit.

Vir die pizza

  • 4 tortillas
  • sowat 8 ansjovis-filette, dun gesny
  • 60 ml klein kappertjiesaad (capers)
  • 100 g swart olywe, ontpit (gebruik italiaanse swart olywe wat nie in olie ingelê is nie)
  • 2 x 120 g sagte mozzarella-kaasballe
  • handvol vars basiliekruid, grofgebreek

Plaas die tortillas op ’n bakplaat. Jy sal waarskynlik twee op ’n slag moet bak. Smeer elke tortilla lekker dik met die gekookte tamatie-sous. Plaas die ansjovis-filette, kappertjiesaad en olywe bo-op. Breek die sagte mozzarella-kaas in groot stukke en plaas bo-op. Sprinkel die grofgebreekte basiliekruidblare oor en plaas in die warm oond. Bak vir 7 - 10 minute. Sit dadelik voor.