(8 – 10 porsies)

  • 200 g (360 ml) koekmeel
  • 100 g botter
  • 45 ml suiker
  • 60 ml yswater

Vulsel

  • 1,2 kg appels, ontklok en in kwarte gesny
  • 200 g (250 ml) witsuiker
  • 15 ml fyn kaneel
  • 100 g botter, gerasper
  • 1 eier, liggies geklits
  • 80 ml bruinsuiker

Verhit oond tot 180 °C.

Plaas meel, botter en suiker in voedselverwerker. Verwerk op hoë spoed tot mengsel soos growwe seesand lyk. Voeg water by en meng tot alles in een bal saamkom. Draai deeg toe in kleefplastiek en laat rus in yskas vir 20 minute of tot ferm.

Sprinkel dun lagie meel op werkoppervlak en rol deeg uit tot sowat 3 mm dik. Voer ’n 30 cm-tertpan met die deeg uit. Vorm die deeg wat oorbly weer in ’n netjiese bal en hou eenkant.

Vulsel

Meng al die bestanddele vir die vulsel, behalwe die eier en bruinsuiker, en skep in uitgevoerde tertbak. Rol die deeg wat jy eenkant gehou het tot 3 mm dik uit en plaas bo-op appels. Druk die rande stewig opmekaar vas. Maak klein gaatjie in middel van kors. Verf met geklitste eier en sprinkel bruinsuiker oor. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en bros.

Laat effens afkoel en sit voor met roomys.

Herman se wenk

Gee jou vulsel ’n ander lewe deur 125 g frambose of aarbeie met die appels te meng.