(6 porsies)

  • 1 Golden Delicious-appel
  • 1 rooi appel
  • 125 ml romerige mayonnaise
  • 100 ml crème fraîche
  • 100 ml Bulgaarse jogurt
  • 30-40 ml suurlemoensap
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 6 hande vol blaarslaai (probeer kleinerige blare kry of breek dit in stukke)

Sny die appels in dun julienne-repies. Gebruik ’n mandolien (komkommermes) as jy een het - dit maak jou lewe baie makliker. Vir die oorspronklike resep maak die hotel self mayonnaise met eiergeel en okkerneut-olie, maar ek het besluit dis onnodig. Meng die romerige mayonnaise saam met die crème fraîche en jogurt. Voeg die suurlemoensap by en geur met sout en swartpeper. Vou die gesnipperde appels en die soet okkerneute (sien onder) by. Sit voor op ’n hand vol blare.

Soet okkerneute
Dis die moeite werd om jou okkerneute só te berei.

• 170 g (1½ koppie) okkerneute
• 250 ml melasse
• 125 ml esdoringstroop
• 125 ml heuning
• 50 ml appelsap
• 500 ml sonneblomolie

Verhit die melasse, esdoringstroop en heuning in ’n pan. Voeg die appelsap by en meng goed. Bring tot kookpunt en voeg die okkerneute by. Verlaag die hitte en laat die okkerneute vir 5 minute kook (moenie oor hoë hitte kook nie, dit kan brand). Verhit intussen die sonneblomolie tot baie warm in ’n ander kastrol. Dreineer die neute in ’n vergiettes. En moenie skrik nie - die neute gaan swart wees. Plaas die neute in die sonneblomolie en braai vir net 1 minuut tot bros. Haal versigtig uit en dreineer op kombuispapier. Kap grof wanneer dit afgekoel het.