Genoeg vir 6

1 liter hoenderaftreksel

4 hoenderborsies

750 ml ongegeurde jogurt

30 ml tahini-pasta

sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene

2 knoffelhuisies, fyngekap

10 ml fyn komyn

10 ml witpeper

2x410 g-blikke kekerertjies, gedreineer (chickpeas)

sout en varsgemaalde swartpeper

80 ml witwyn-asyn

6 eiers

4 pitabrode, opgewarm

100 g okkerneute, grofgekap

30 ml gerookte paprika

Bring aftreksel tot kookpunt en posjeer borsies 10-15 minute of tot gaar. Skep uit en vlok fyn met twee vurke. Plaas jogurt, tahini, sap en skil van suurlemoene, knoffel, komyn en witpeper in groot pot. Roer oor lae hitte tot mengsel warm is, net onder kookpunt – moenie kook nie, dit sal skif. Voeg kekerertjies by en hou aan roer oor lae hitte tot alles lekker warm is. Voeg hoender by. Geur goed met sout en peper. Hou eenkant. Bring nou pot met water tot kookpunt en voeg asyn by. Verlaag hitte tot stadige prut en breek eiers een-een in die pot. Posjeer 3-4 min vir sagte eiers of langer, nes jy verkies. Rooster pitabrode in broodrooster of warm oond. Skep eiers uit water bo-op warm kekerertjiemengsel. Sprinkel okkerneute en paprika oor. Breek pitabrode in kleiner stukke en sit voor saam met gereg.