Die klassieke tert is die koningin van yskasterte.

genoeg vir 1 tert

• 1 x 10 g-sakkie gelatien
• 30 ml water
• 1 x 200 g-pakkie klapperkoekies 
• 100 g (110 ml) botter, gesmelt
• 1 x 500 g-sakkie Cremora
• 250 ml yswater
• 2 x 385 g-blikke kondensmelk
• 250 ml suurlemoensap
• 5 ml vanieljegeursel
• 1 x 100 g-plak witsjokolade, gesmelt
• 200 g frambose
• versiersuiker

Sprinkel gelatienpoeier oor water en laat staan tot sponsagtig. Verwerk koekies by hoë spoed tot fyn in voedselverwerker. Voeg botter by en meng tot klam mengsel vorm. Spuit ’n ronde losboom-koekpan van 30 cm goed met kleefwerende kossproei. Voer pan uit met klam koekiemengsel. Hou eenkant. Maak Cremora aan met yswater en plaas in elektriese menger se bak. Voeg kondensmelk by en klits by hoë spoed tot mengsel dik en romerig is, sowat 5 – 8 minute. Terwyl menger loop, gooi suurlemoensap geleidelik by en hou aan klits tot mengsel dik en romerig is. Voeg geursel en witsjokolade by. Smelt geweekte gelatien ’n paar sekondes in mikrogolfoond en voeg by mengsel. Meng goed. Skep mengsel in uitgevoerde pan en laat stol sowat 2 – 3 uur in yskas. Verwyder ring en plaas tert op opdienbord. Rol frambose in versiersuiker en pak bo-op.