FOTO Donna Lewis

Tradisioneel word die tert in ’n driekhoekvorm gestol.

GENOEG VIR 1 TERT

• 15 ml gelatien
• 30 ml water
• 1 x 200 g-pakkie klapperkoekies
• 100 g (110 ml) botter, gesmelt
• 1 x 385 g-blik kondensmelk
• 100 ml suurlemoensap
• gerasperde skil van 1 suurlemoen
• 250 g gladde maaskaas
• 100 g witsjokolade, gesmelt
• 500 ml room
• witsjokoladesous van jou keuse

Voer ’n ronde koekpan van 15 cm in deursnee (en 20 cm diep) met kleefplastiek uit. Sprinkel gelatienpoeier oor water en laat staan tot sponsagtig. Plaas koekies in voedselverwerker en pols by hoë spoed tot fyn. Voeg botter by en meng tot klam mengsel vorm. Hou eenkant. Meng kondensmelk, suurlemoensap en -skil in groot mengbak met draadklitser. Voeg maaskaas by en meng tot glad. Smelt geweekte gelatien ’n paar sekondes in mikrogolfoond. Voeg saam met gesmelte sjokolade by maaskaasmengsel en meng. Klits room tot sagte punte vorm en vou in. Skep twee eetlepels van koekiemengsel onderin uitgevoerde pan en versprei eweredig oor bodem. Skep ’n laag maaskaasmengsel van sowat 1 cm hoog bo-op koekiemengsel. Skep weer ’n laag koekiekrummels bo-op. Herhaal tot die koekie- en maaskaasmengsels opgebruik is. Rond af met maaskaaslaag. Laat stol 4 – 6 uur in yskas of oornag. Gebruik die kleefplastiek om die tert uit die pan te lig. Verwyder plastiek en plaas tert op opdienbord. Sit voor met witsjokoladesous van jou keuse.