Kook stylvol, eet bekostigbaar

Ek is op ’n missie om elke kombuis in die land oor te neem en almal aan die kook te kry! Oor die volgende paar weke wil ek vir SARIE-lesers wys dat jy elke aand vir net R150 (ja, regtig, nie net omdat dit goed klink nie!) vir jou gesin van vier goeie kos op die tafel kan sit.

Ek gaan elke dag ’n resep met julle deel wat ek met net R150 of minder gemaak het. Goeie kos beteken nie duur bestanddele nie, nee, dit beteken eerder goeie gaarmaakmetodes, slim inkopies doen en natuurlik die regte gereedskap gebruik. So kom sit aan en weet dat ons met goeie kos ons wêreld ’n beter plek kan maak! – Herman Lensing

Het jy Maandag se resep gemis? Klik hier:

MAANDAG: Varkworsies en pere in mosterdsous

DINSDAG: Tamatie-en-basiliekruidsop

Warm caprese-spaghetti

genoeg vir 4

Caprese – ’n Italiaanse slaai met mozzarella, tamatie en basiliekruid – is een van my gunstelinge. Hier maak ek pasta en slaai in een!

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 400 g kersietamaties
  • 3 takkies tiemie, fyngekap
  • 60 ml balsamiese asyn
  • 30 g (30 ml) botter
  • 300 g suurdeegbrood, in stukkies gebreek of in blokkies gesny
  • 1 x 500 g-pak spaghetti
  • 1 hand vol basiliekruid, grofgekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 g sagte mozzarella

Metode:

Verhit die olyfolie in ’n middelslagpan tot goed warm. Voeg die ui en knoffel by. Roerbraai 2 minute of tot dit begin verbruin. Voeg die tamaties, tiemie en asyn by en braai 5-8 minute of tot die tamaties oopbars. Haal van die hitte af.

Verhit die botter in ’n skoon pan en braai die brood tot goudbruin en bros.

Kook die spaghetti volgens die aanwysings op die pak en dreineer. Gooi by die tamatiesous en voeg die basiliekruid by. Meng deur. Geur goed met sout en swartpeper.

Skep die pasta in ’n opdienbak en breek mozzarellastukke bo-oor. Sprinkel die gebraaide broodblokkies oor en sit warm voor.

Wenk: As jy van vleis by jou kos hou, kan jy so 250 g spek fynkap en dit saam met die ui braai tot goudbruin en bros.

Herman Lensing het Le Creuset se splinternuwe Provence-reeks gebruik om stylvol te kook.

Klik hier om Le Creuset se webtuiste te besoek vir meer inligting.