Beeskortribbe met olyfsalsa 

As jy trooskos op sy beste soek, kan jy maar aansit. Vra jou slagter om dit vir jou te french trim.

genoeg vir 6

2 uie, grofgekap

1,3 kg beeskortribbe (short ribs)

sout en varsgemaalde swartpeper

2 wortels, in ringe gesny

3 stingels seldery, gekap

4 takkies vars tiemie, grofgekap

3 knoffelhuisies, fyngekap

30 ml fyn koljander

1 x 410 g-blik tamatiepuree

500 ml beesaftreksel

250 ml rooiwyn

Salsa

hand vol Italiaanse pietersielie

12 groen olywe, ontpit en fyngekap

sap en gerasperde skil van 3 suurlemoene

80 ml olyfolie 

Verhit oond tot 180 °C. Pak uie in een laag in oondbraaibak en plaas ribbe bo-op, met vetkant na bo. Geur goed met sout en peper. Meng res van bestanddele saam (behalwe vir salsa) en gooi oor vleis. Maak bak toe met foelie en oondbraai vleis 2 uur of tot dit sag is en van die been wegtrek. Haal vleis uit potsous en plaas op bakplaat. Gooi potsous in ’n pot en bring tot kookpunt. Kook tot sous met helfte verminder het en hou eenkant. Plaas al die bestanddele vir die salsa in ’n voedselverwerker en pols by hoë spoed tot glad. Plaas ribbe op opdienbord en skep afgekookte sous en salsa oor. Sit warm voor.

Olyfbrood 

genoeg vir 1

500 g (890 ml) koekmeel

500 ml water

1 x 10 g-sakkie kitsgis

10 ml sout

200 g olywe, ontpit en grofgekap

ekstra koekmeel vir oorsif

Verhit oond tot 220 °C. Plaas al die bestanddele, buiten die olywe, in die bak van ’n elektriese menger. Gebruik die mengspaan (K-Beater) en meng die beslag op die hoogste spoed tot alles in een bal saamkom in die middel van die bak, sowat 10 – 12 minute. Gooi olywe by en meng nog 1 minuut. Maak bak toe met kleefplastiek en laat rys op warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute. Sif ’n dik laag meel op ’n bakplaat wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Keer die deeg versigtig op die bakplaat uit. Gebruik jou vingerpunte en vorm die deeg in ’n langwerpige brood. Plaas dadelik in oond en bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar. Wenk Die deeg is baie loperig en glad nie soos gewone brooddeeg wat jy met jou hand kan knie nie.

Marineer jou eie olywe

genoeg vir 1 bottel

350 ml olyfolie van goeie gehalte

hand vol vars tiemie

4 knoffelhuisies, grofgekap

sap en skil van 2 suurlemoene

500 g swart en groen olywe

6 wiele feta, in blokkies gesny

sout en varsgemaalde swartpeper

45 ml gerookte paprika

100 g okkerneute 

Meng olyfolie, tiemie, knoffel, sap en skil van suurlemoen saam. Voeg olywe en feta by. Geur goed met sout en swartpeper. Plaas in lugdigte houer en laat marineer in jou yskas vir 4 – 6 uur of oornag.

Soek jy 'n ander episode se resep?

Episode 1: Koring

Episode 2: Pruime

Episode 3: Charcouterie

Episode 4: Kersies

Episode 5: Ingemaakte vrugte en speserye

Episode 6: Botter

Episode 7: Biltong

Episode 8: Brandewyn

Episode 9: Buchu

Episode 10: Rooiwyn

Besoek Spekko Rice se webtuiste vir meer resepte. 

Volg ook Spekko Rice se Facebook, Twitter en Instagram-blaaie.