Juweelslaai

In Noord-Afrika staan dié slaai ook bekend as tabbouleh. Graan is ’n goedkoop manier om baie monde te voed.

genoeg vir 12

250 g bulgurkoring (kyk by gesondheidsafdeling)

250 g Spekko-bruinrys

250 g koeskoes

100 ml olyfolie

125 ml hoemoes

sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen

2 rooi-uie, fyngekap

300 g kersietamaties, gehalveer

1 komkommer, in blokkies gesny

5 wortels, in blokkies gesny

1 groot hand vol Italiaanse pietersielie

1 hand vol kruisement, gekap

1 hand vol granaatpitte

sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas bulgurkoring en sowat 500 ml water in pot. Bring tot kookpunt en kook tot al die vloeistof geabsorbeer is, sowat 10 minute. Hou eenkant. Plaas bruinrys en 750 ml water in pot. Bring tot kookpunt en kook tot rys sag is, 25-30 minute. Dreineer en hou eenkant. Gooi 250 ml kookwater oor koeskoes en laat staan 10 minute. Roer los met vurk en voeg gaar koring en rys by. Meng deur en hou eenkant.

Meng olyfolie, hoemoes en 50 ml kookwater tot glad. Voeg sap en skil van suurlemoen by. Hou sous eenkant.

Voeg res van bestanddele by graanmengsel, gooi sous oor en meng deur. Geur goed met sout en peper. Sit voor.

Gebraaide salm met granaatsalsa

genoeg vir 4 

800 g salmfilet

sap van 1 suurlemoen

30 ml olyfolie

sout en varsgemaalde swartpeper 

30 ml botter

Tamatie-olyf-en-granaatsalsa

200 g klein rosatamaties, in klein blokkies gesny

100 swart olywe, ontpit en in skywe gesny

30 ml kappertjiesaad, gekap

30 ml gekapte pietersielie

15 ml olyfolie

30 ml sjerrie-asyn

1 hand vol granaatpitte

Sny vis in 4 porsies. Gooi suurlemoensap en olyfolie oor. Geur met sout en swartpeper. Smelt botter in ’n pan. Plaas vis met vel na onder in pan en braai vir sowat 4 minute aan elke kant. Meng al die bestanddele vir salsa en skep bo-op gebraaide vis.

Granaat-en-jogurtjellie

genoeg vir 8

15 ml gelatien

1 hand vol granaatpitte

500 ml bosbessiesap (cranberry) teen kamertemperatuur

500 ml vanieljejogurt

nog granaatpitte om bo-op te strooi

Hierdie is een van die maklikste metodes. Gooi gelatien in ’n bakkie. Gooi so 2-3 eetlepels koue water oor en meng. Plaas dié bakkie oor ’n bakkie met kookwater. Die gelatien sal nou smelt. Voeg die granaatpitte by die sap. Voeg die gesmelte gelatien by die sap en verdeel tussen jou glase tot halfvol. Laat die mengsel eers in die yskas stol. Skep lepels vol jogurt bo-op elke jellie, strooi ekstra granaatpitte oor en sit voor.

Soek jy 'n ander episode se resep?

Episode 1: Koring

Episode 2: Pruime

Episode 3: Charcouterie

Episode 4: Kersies

Episode 5: Ingemaakte vrugte en speserye

Episode 6: Botter

Episode 7: Biltong

Episode 8: Brandewyn

Episode 9: Buchu

Episode 10: Rooiwyn

Episode 11: Olywe

Besoek Spekko Rice se webtuiste vir meer resepte. 

Volg ook Spekko Rice se FacebookTwitter en Instagram-blaaie.