Herman Lensing toor vandeesweek met brandewyn. Hy maak beesfilet-oor-die-kole met brandewyn-sampioensous, kaas-fondue en pannekoeke met lemoensous.

Beesfilet-oor-die-kole met brandewyn-sampioensous

genoeg vir 8

100 ml olyfolie

1 hand vol vars kruie van jou keuse, fyngekap

5 knoffelhuisies, gekap

100 ml rooiwyn

1 beesfilet

sout en varsgemaalde swartpeper 

Sous

45 ml olyfolie

2 knoffelhuisies, gekap

1 ui, fyngekap

400 g gemengde sampioene

150 ml brandewyn

250 ml room

sout en varsgemaalde swartpeper 

Meng olyfolie, kruie, knoffel en rooiwyn. Marineer filet in mengsel. Geur goed met sout en swartpeper. Braai filet stadig oor matige kole – sowat 15 minute per kant vir medium-gaar of langer as jy dit gaarder verkies. Haal van hitte af en laat rus in skoon bak.

Maak sous deur olyfolie in ’n middelslagpot te verhit. Voeg knoffel en ui by. Braai liggies vir sowat 5 minute of tot dit begin verkleur. Voeg sampioene by en braai verder vir 5-8 minute of tot goudbruin en gaar. Gooi brandewyn by en laat wegkook. Voeg room by en verlaag hitte. Laat stadig prut tot vloeistof met helfte verminder, sowat 10-12 minute. Geur goed met sout en swartpeper. Sit filet voor saam met sampioensous.

Kaas-fondue

genoeg vir 4-6

10 ml fyngekapte knoffel

150 ml droë witwyn

50 ml brandewyn

200 ml groenteaftreksel

450 g gerasperde gruyère-kaas

15 ml mielieblom

30 ml ekstra brandewyn

sout en varsgemaalde swartpeper

neutmuskaat

brood vir voorsit 

Plaas knoffel, witwyn, brandewyn en groenteaftreksel in ’n kastrol. Verhit tot net onder kookpunt. Voeg gerasperde kaas bietjie vir bietjie by. Maak seker elke bietjie kaas is gesmelt voor jy nog byvoeg. Roer deurgaans totdat ’n gladde sous vorm. Verhit die kaassous tot kookpunt. Meng mielieblom en ekstra brandewyn en voeg by sous. Verlaag hitte en hou aan roer tot dit verdik. Indien sous te dun is, kan jy nog ’n bietjie mielieblom byvoeg. Voeg sout, swartpeper en neutmuskaat by. Gooi in ’n fonduepot en sit voor saam met brood.

 

Crêpes Suzette

Onthou hoe die kelner dit in die 80’s langs die tafel gemaak het? En dan is dit geflambé (die sous aan die brand gesteek). 

genoeg vir 4

Pannekoeke

250 g koekmeel

knippie sout

5 ml suiker

2 eiers, effens geklits

400 ml melk

100 ml water

15 ml botter, gesmelt

30 ml gerasperde lemoenskil

15 ml gerasperde suurlemoenskil

50 ml gesmelte botter om die pannekoeke in te bak

Sif meel, sout en suiker saam. Klits eiers, melk en water goed saam. Voeg die melkmengsel by die droë bestanddele. Klits goed – die beste is om ’n elektriese menger te gebruik om seker te maak daar is geen klonte nie. Voeg gesmelte botter by en meng goed. Bedek die mengsel met ’n lap en laat staan vir minstens 20 minute. Voeg lemoen- en suurlemoenskil by en meng goed. Terwyl die beslag rus, maak jy die sous.

Lemoensous

125 g strooisuiker

250 ml lemoensap

skil van 1 lemoen, in dun repies gesny

60 ml brandewyn

50 g botter, in klein blokkies gesny

Smelt strooisuiker in ’n pan. Kook tot karamel. Voeg lemoensap by. Die karamel sal weer hard word wanneer jy die lemoensap byvoeg, maar hou net aan roer tot dit weer smelt. Voeg lemoenskil by. Wanneer alles goed gemeng is, prut stadig vir so 3 minute. Hou eenkant terwyl jy die pannekoeke bak.

Smeer ’n nie-kleefpan met ’n bietjie gesmelte botter en verhit die pan. Gooi van die pannekoekbeslag in die pan sodat die bodem net bedek is. Braai vir so 2 minute een kant en draai dan die pannekoek versigtig om. Braai aan die ander kant vir nog 2 minute. Wanneer die pannekoek gaar is, vou dit in die helfte en dan weer in die helfte sodat dit ’n driehoek vorm. Hou eenkant terwyl jy al die pannekoeke braai.

Maak weer die karamelsous warm en pak die pannekoeke in die pan met die sous. Wanneer als lekker warm is, voeg die brandewyn by en steek aan die brand. Voeg botterblokkies by en skud die pan tot dit alles gesmelt is. Sit dadelik voor, net so of met vanieljeroomys.

Soek jy 'n ander episode se resep?

Episode 1: Koring

Episode 2: Pruime

Episode 3: Charcouterie

Episode 4: Kersies

Episode 5: Ingemaakte vrugte en speserye

Episode 6: Botter

Episode 7: Biltong

Besoek Spekko Rice se webtuiste vir meer resepte. 

Volg ook Spekko Rice se FacebookTwitter en Instagram-blaaie.