#OkkasieInspirasie: ’n Franse verlowingsete (episode 7)

Melissa is verloof en wil graag ’n verlowingsete vir haar vriende hou om dié gelukkige mylpaal in haar lewe te vier. Herman spring aan die werk en berei ’n heerlike ete. ’n Tradisionele Coq Au Vin word saam met Franse baguettes bedien en vir nagereg is daar ’n spoggerige peer-en-sjokolade tarte tatin.

Nuwe episodes van Okkasie-inspirasie wys elke Maandag om 18:30 op VIA (DStv-kanaal 147) met ’n heruitsending op Sondae om 16:30.

Melissa se spyskaart:

  • Franse Bageuttes
  • Coq au Vin- Hoender in rooiwyn
  • Peer-en-Sjokolade-tarte-tatin

FRANSE BAGUETTES

Maak 8 Baguettes

  • 1 x 10 g-sakkie kitsgis
  • 10 g sout
  • 20 ml heuning
  • 30 ml olyfolie
  • 660 ml louwarm water
  • 1 kg (1 785 ml) koekmeel

Plaas water, gis, sout, heuning en olyfolie in menger se mengbak. Gooi ²/3 van meel by en meng met deeghaak op matige spoed. Gooi laaste ¹/3 van meel geleidelik by en meng tot ’n stywe, kniebare deeg vorm. Verhoog mengerspoed en knie vir 8 – 10 minute of tot ’n elastiese, gladde mengsel. Plaas deeg in groot bak wat met sonneblomolie gesmeer is. Bedek met kleefplastiek en laat rys op warm plek vir 30 – 40 minute of tot dubbel in volume. Knie af. Herhaal proses drie keer. Keer deeg uit op meelbestrooide oppervlak en sny in 200 g-stukke: Dis belangrik om die deeg te weeg sodat al die brode ewe groot is. Druk deegstukke effens plat en rol dan styf op, soos vir ’n rolkoek. Laat staan vir 10 minute en vorm die baguette so:

Druk rolletjie effens plat. Vou boonste twee hoeke van deeg na middel dat dit lyk soos ’n huis se dak. Gebruik palm van hand en druk deeg weer plat. Vou huisdakkie dan oor in 1 cmbreë vou. Doen dit 2 maal. Begin om deeg se bo-punt oor te vou na onder en dan die soom met jou handpalm stewig vas te druk. Hou so aan tot jy die hele oorblywende stuk deeg gerol-vou het. Verhit oond tot 220 ºC. ol die wors met jou palms tot sowat 50 cm lank en rol die punte van deeg op om skerp punte te vorm. Plaas op bakplaat wat gespuit is met kleefwerende kossproei met deeg se soom na onder. Sif klein bietjie koekmeel booor baguettes. Laat rys op warm plek vir 25 – 30 minute of tot dubbel in volume. Gebruik ’n skerp mes of outydse skeermeslemmetjie (Minora) en sny 5 kepe bo-op uitgerysde brood. Bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin. Laat afkoel.

COQ AU VIN – HOENDER IN ROOIWYN

8 porsies

  • 8 dy-en-boudjiehoenderporsies
  • 6 tiemietakkies
  • 3 stukkies pietersielie, grofgekap
  • 2 lourierblare
  • 1 bottel (750 ml) rooiwyn
  • 15 ml olyfolie
  • 15 ml botter
  • 250 g repiespek (streaky bacon), in blokkies gesny
  • 10 salotte of klein uitjies
  • 125 ml hoender-aftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 300 g baba-sampioene

Plaas hoenderstukke, tiemie, pietersielie en lourierblare in ‘n groot bak. Gooi wyn oor. Maak toe met kleefplastiek en plaas oornag in yskas. Die hoender sal daarna ‘n rooi kleur hê. Verhit oond tot 180 °C. Haal hoender uit en droog af met kombuispapier. Hou wyn eenkant. Verhit olie en botter saam in oondkastrol. Braai hoender tot bruin. Haal hoender uit kastrol en braai

spek daarin tot effens bros. Voeg salotte by en braai vir so 2 minute saam met spek. Plaas hoender terug in kastrol en gooi die wyn oor, saam met tiemie, pietersielie en lourierblare. Voeg aftreksel by en geur met sout en swartpeper. Sit deksel op en plaas vir sowat 2 uur in warm oond. Voeg sampioene vir die laaste halfuur by. (As die sous te dun lyk, kan jy 15 ml mielieblom met 25 ml water meng en dit byvoeg. Kook vir nog so 15 minute tot verdik.)

Sit voor met Franse brood.

PEER-EN-SJOKOLADE-TARTE-TATIN

Mediumgroot tert

  • 30 ml botter
  • 45 ml bruinsuiker
  • 4 pere, geskil en gehalveer
  • 100 g melksjokolade, grofgekap
  • 1 x 500 g blaardeeg
  • 50 g okkerneute
  • 300 g crème fraîche

Verhit oond tot 180 °C. Smelt botter in ‘n oondvaste braaipan van 30 cm en gooi suiker by. Laat stadig karamelliseer vir 3 minute. Sit pere gesnyde kante na onder in karamel. Braai vir 5 minute.Verwyder pan van hitte en strooi sjokolade oor. Sny blaardeeg die grootte van die pan en plaas stewig bo-op die pere en druk vas. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar. Plaas ‘n bord oor die pan en draai met een vinnige beweging om en keer uit. Sprinkel gekapte okkerneute oor en sit voor met crème fraîche.

Die Tafel:

Die okkasie: Melissa Posthumus se okkasie is baie aardse oklasie. Melissa hou van die idee van 'n oesfees en wil dit baie graag deel maak van haar verlowingsete. Bondels blomme wat sweef oor die tafel en bondels kruie skep 'n vars atmosfeer. Kandelare en bondels kerse verleen 'n tikkie luuksheid.

Ons wil ook net baie dankie se aan die volgende mense wat bygedra het om die okasie spisiaal te maak. XL Events vir die dekor items. Alsmeer Blomme vir die blomme en Mervyn Gers Ceramics vir die eetgerei