Die Afrikaanse leefstylkanaal VIA (DStv-kanaal 147) lui vanjaar die feestyd in met Herman se fees, ’n spesiale Kers-bonanza. In dié uur lange kosprogram, wat vanaf 23 November 2017 op VIA te sien sal wees, nooi SARIE se geliefde kosredakteur, Herman Lensing, DStv-kykers sy kombuis binne en deel resepte vir ’n spanningslose Kersdag. Hier is ook dekor-idees vir ’n feestafel waar – in sy eie woorde – “nostalgie en styl gemaklik saamsit”. Hierdie program is moontlik gemaak deur Checkers.


Om Herman se onthaalgeheime vir die feestyd te steel, skakel op die volgende dae en tye in op VIA (DStv-kanaal 147) vir Herman se fees:

Donderdag 23 November om 18:30.
Maandag 27 November om 21:30
Vrydag 1 Desember om 19:00
Dinsdag 5 Desember om 18:30
Sondag 10 Desember om 16:30
Saterdag 9 Desember om 17:00
Donderdag 21 Desember om 18:30


Hier's Herman se resepte wat in die program verskyn:

Spyskaart:

Witwyn-sangria

Forelterrien met brood

Kersham met esdoring-mosterd-en-nartjie-glaseersel

Oondgebraaide beesvleis met peperwortel-mayonnaise 

Eendvet-aartappels

Spruitkool met Kersfees-roomsous

Kersie-en-Kerskoek-cassata 

Witwyn-sangria

Genoeg vir 8

2 x 750 ml Odd Bins Sauvignon Blanc
300 ml gemmerbier
80 ml vlierblomstroop (elderflower cordial)
4 lemmetjies, in skywe gesny
4 perskes, ontpit en in skywe gesny
vars bessies, soos kersies, frambose en aarbeie
1 liter sodawater
1 kg gebreekte ys
eetbare blomme vir garnering

Meng al die sangriabestanddele saam. Vul ’n groot glasbeker met gebreekte ys en gooi die sangria oor. Garneer met eetbare blomme.

Forelterrien met brood

Genoeg vir 8

400 g dun velle gerookte forel
120 ml crème fraîche
300 g roomkaas
30 ml mosterd
hand vol grasuie (chives), gekap
sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
sout en varsgemaalde swartpeper
4 velle gelatien
60 ml water

Ekstra lekkernye:

45 ml olyfolie
2 knoffelhuisies, gekap
24 Cape Point Prawns (rings)
hand vol pietersielie, gekap
sap en skil van 1 suurlemoen
sout en varsgemaalde swartpeper
100 g baba-agurkies
12 snye melba-roosterbrood

Voer ’n broodpan van sowat 11 x 21 cm uit met kleefplastiek. Voer nou broodpan uit met 300 g forelvelle (dit kan maar oor die rand hang). Meng crème fraîche en roomkaas. Voeg mosterd, grasuie en sap en skil van suurlemoen by. Geur goed met sout en swartpeper. Meng deeglik. Week gelatien in water tot sag. Sit in mikrogolfoond vir 10 sekondes of tot gesmelt. Voeg by roomkaasmengsel en meng goed. Skep helfte van mengsel in broodpan, gevolg deur ’n dun lagie forel (die oorblywende 100 g). Skep res van roomkaasmengsel bo-op. Vou forel wat oor rand hang oor mengsel. Plaas kleefplastiek op terrien. Sit ’n leë broodpan op terrien en vul met water. Los oornag in yskas om te stol. 

Lekkernye:

Verhit olyfolie in ’n pan. Sit knoffel ook in pan en braai vir 5 minute. Voeg garnale by en braai tot goudbruin en gaar, sowat 5-8 minute. Voeg pietersielie en sap en skil van suurlemoen by. Geur goed met sout en swartpeper. Keer terrien uit op ’n opdienbord en sit voor saam met garnale, agurkies en roosterbrood.

Kersham met esdoring-mosterd-en-nartjie-glaseersel

Genoeg vir 12

1 groot Maple Flavoured Gammon (easy carve)
2 uie, gehalveer
4 lourierblare
10 swartpeperkorrels
hand vol heel naeltjies

Glaseersel:

1 x 500 g-esdoringstroop (maple syrup)
60 ml korrelmosterd
500 ml nartjiesap (of lemoensap)
skil en segmente van 4 nartjies (of lemoene)

Plaas ham in groot kastrol. Voeg ui, lourierblare en peperkorrels by. Bedek met water en bring tot kookpunt oor hoë hitte. Kook 30 minute per 500 g, minus 30 minute vir die tyd wat die ham moet bak. (Die 4 kg-ham het 3½ uur gekook.) Haal versigtig uit water en trek vel af terwyl nog warm sodat die vetlaag wys. Sit in oondroosterpan. Gebruik ’n skerp mes en sny ’n diamantpatroon in die vetlaag. Druk ’n naeltjie in elke vetdiamant. ( Jy kan dit alles doen die dag voor jy die ham gaan voorsit.)

Glaseersel:

Verhit oond tot 180 °C. Plaas al die bestanddele, behalwe die nartjie-segmente, in ’n middelslagpot en bring tot kookpunt. Laat prut vir 1 minuut en verwyder van hitte. Gooi hele mengsel oor ham. Plaas ham oop in oond en rooster vir 30 minute. Skep elke 10 minute van die glaseersel in die pan oor. Bak tot ham goudbruin is. Sit op mooi opdienbord en strooi nartjie-segmente oor. Sit voor.

Spruitkool met Kersfees-roomsous

’n Nuwe manier om blomkool en witsous te maak.

Genoeg vir 8

75 g (80 ml) botter
4 knoffelhuisies, fyngekap
45 ml koekmeel
250 ml room
250 ml melk
100 g Cheddar Cheese with Christmas Cake Mixture, gerasper, plus ekstra vir voorsit
sout en varsgemaalde swartpeper
600 g spruitkool (Brussels sprouts)
5 ml neutmuskaat

Plaas botter en knoffel in groot pot en bring tot kookpunt. Verlaag hitte tot botter stadig prut. Laat prut 5-8 minute of tot botter goudbruin verkleur. Voeg meel by en roer tot meel deur botter geabsorbeer is. Voeg room en melk by en meng deur met draadklitser. Verhoog hitte en kook terwyl jy aanhoudend roer tot mengsel dik en romerig is – sowat 5-8 minute. Verwyder van hitte en voeg kaas by. Meng goed. Geur met sout en peper. Hou sous eenkant. 

Bring pot met water tot kookpunt en gooi spruitkool in. Kook 5-8 minute of tot kool sag maar steeds ferm is. Dreineer en plaas op opdienbord. Geur kool goed met sout en swartpeper. Gooi warm sous oor. Sprinkel neutmuskaat en ekstra kaas oor. Sit voor.


Oondgebraaide beesvleis met peperwortel-mayonnaise

Checkers se Ready to Cook-reeks maak jou werk minder. En ons weet mos ’n mooi meisie vra vir min, net ’n bietjie grimering: peperwortel-mayonnaise. Glo my, beesvleis en peperwortel is beste vriende.

Genoeg vir 8

1 x Ready to Cook Roast Beef 

Peperwortel-mayonnaise:

1 heel knoffelbol
sowat 20 ml olyfolie
4 eiergele
2,5 ml sout
30 ml suurlemoensap
500 ml olyfolie
20 ml fyngekapte pietersielie
1 vars peperwortel (horseradish)

Berei vleis volgens aanwysings op pak. Verhit oond tot 180 °C. Sny knoffelbol bo oop. Plaas op foelie of bakpapier. Gooi 20 ml olyfolie oor en vou foelie/bakpapier toe. Plaas bedekte knoffelbol op bakplaat. Oondbraai sowat 30 minute in warm oond tot knoffel baie sag is. Plaas eiergele, sout en suurlemoensap in ’n mengbak. Druk sagte knoffel uit huisies in bak en maak seker daar is geen skil by nie. Klits eiergele en knoffel goed saam met ballonklitser. Gooi 500 ml olyfolie in dun straaltjie by eiermengsel terwyl jy heeltyd klits. Wanneer al die olie bygevoeg is, sal die mayonnaise dik wees. Voeg fyngekapte pietersielie by en meng deur. Rasper peperwortel op fyn kant van rasper en meng deur. Sit voor met gaar vleis.

Eendvet-aartappels

Genoeg vir 8

21 aartappels, geskil (sowat 2 kg)
550 g eendvet (of 500 ml kanola-olie)
4 takkies tiemie
2 knoffelhuisies, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Bring pot met water tot kookpunt en sit aartappels daarin. Laat kook vir 8 minute. Dreineer en laat effens afkoel. Krap met ’n vurk oor aartappels tot dit ’n growwe tekstuur het. Plaas eendvet of kanola-olie, tiemie en knoffel in groot oondroosterpan. Sit in warm oond vir 20 minute. Haal bak versigtig uit oond en plaas aartappels in warm vet of olie. Sit terug in oond en bak vir 20-25 minute of tot goudbruin en gaar. Draai aartappels halfpad deur die bakproses om. Dreineer op kombuispapier en geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor.

Kersie-en-Kerskoek-cassata 

Dit het soms op my grootword-tafel op Upington opgeduik, maar dan was ons baie grênd. Ek het eers jare later agtergekom my ma het dit van winkelroomys gemaak!

Genoeg vir 8

2 liter topgehalte-vanieljeroomys
190 g glanskersies 
40 ml amandellikeur (Amaretto)
gerasperde skil van 1 suurlemoen
200 g pistasieneute, grofgekap
1 x Luxury Christmas Cake, fyngekrummel
kakao vir oorsif
vars kersies en roosstroop vir voorsit

Roer roomys in groot mengbak met houtlepel tot sag. Meng res van bestanddele by. Skep mengsel in koekpan (volume 3 liter) en smeer gelyk bo. Laat roomys oornag in vrieskas. Haal uit en doop pan vinnig in kookwater. Keer uit op bord. Sif kakao oor. Sit voor met ekstra vars kersies en roosstroop.