HOOFFOTO: Demi-Leigh Nel-Peters op Instagram

Die afgelope jaar het die beeldskone Demi-Leigh Nel-Pieters Suid-Afrika trots gemaak as Mej. Heelal 2017. Vroeër vandeesweek het sy in Bangkok, Thailand, die kroon oorhandig aan Mej. Filippyne, Catriona Gray, die wêreld se nuwe Mej. Heelal. Demi-Leigh het geskitter by die plegtigheid. 

Maar wat ons harte nog warmer laat klop het, is dat Demi-Leigh ná haar jaar in die Groot Appel trots SA gebly en ’n plaaslike ontwerper se skepping gekies het om op die aand te dra. Sy het asems weggeslaan in ’n Gert-Johan Coetzee-ontwerp wat met 100 000 groen en geel Swarovski-kristalle versier is.

En wat sê Gert-Johan Coetzee? “Ons is so trots op Demi-Leigh en alles wat sy bereik het gedurende haar jaar as Mej. Heelal. Dit was so ’n eer om haar laaste uitrusting as Mej. Heelal te ontwerp. Demi-Leigh het ’n koninklike kwaliteit aan haar, maar sy is ook ongelooflik sexy en daarom kan sy die noupassende laerug-rok dra wat nie almal kan doen nie.”