Dit was 'n ikoniese rolprent-oomblik:  Audrey Hepburn, geklee in 'n elegante swart rok, vat 'n hap van haar fyngebak soos sy na Tiffany & Co. se vertoonvenster kyk. Die openingstoneel uit Breakfast at Tiffany's (1961) sou dekades later vir groot mode-inspirasie sorg, dis immers die bekendste Little Black Dress. Die rok se ontwerper? Hubert de Givenchy van die modehuis Givenchy. 

FOTO Instagram / @Audreyhepburn

Hy is gister op die ouderdom van 91 oorlede. 

'n Lewenslange verhouding

Givenchy het sedert 1953 vir Audrey in rolprente geklee, en ook sy was 'n muse vir hom.

Voor die verfilming van Sabrina (1954), 'n film waar Audrey se vaal karakter 'n mooimaak-sessie beleef, het sy 'n afspraak met Mnr. De Givenchy gemaak. Sy wou hê hy moes Sabrina se klere ontwerp.

Haar sjarme en bokkie oë het hom oortuig om in te stem. Saam het hulle toe ook gesorg vir ikoniese mode-oomblikke uit flieks soos  Funny Face (1957), Love in the Afternoon (1957), Breakfast at Tiffany’s, Charade (1963), How to Steal a Million (1966) en Bloodline (1979).

Audrey Hepburn en Hubert de Givenchy. FOTO Instagram / @lmwdecor

In haar persoonlike lewe het Audrey ook graag Givenchy gedra. Toe sy in 1969 met haar tweede man, Andrea Dotti, trou het sy 'n aspienk Givenchy-rokkie gedra. Hy het dit spesiaal vir haar ontwerp. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

"Givenchy's se lieflike, eenvoudige rokke het my altyd die gevoel gegee van wie ek moet speel," het Audrey in 'n destydse onderhoud met BBC gesê.

FOTO Instagram / @sinergia

Die klein swart nommertjie

'n Swart rok hang in byna elke vrou se kas. Dra dit nes jy wil - kort, bokant dit knie, kuitlengte, klassiek lank - dié bekoorlike staatmaker wérk. So het dit als begin. 

1926 - Coco Chanel maak swart sjiek

In 1926 het dié Franse mode-ikoon die modewêreld een van sy grootste geskenke nog gegee: Die klein swart nommertjie. Sy het al ’n hele paar jaar voor dit, op die gala-aand van ’n opera, besluit om die mode-landskap te verander – weg van die oordadig kleurryke uitrustings van die mode-ontwerper Paul Poiret, wat voor die Eerste Wêreldoorlog as dié modekoning in Parys beskou is. Coco Chanel  het geglo mode moet eenvoudig, sexy en funksioneel wees. Sy het saam met haar twee susters in ’n kloosterskool vir weeskinders in sentraal-Frankryk grootgeword en is moontlik onbewustelik beïnvloed deur die sobere drag van die nonne. Haar eerste “little black dress"  (LBD) was knielengte en van swart sy. Die Franse modetydskrif Vogue het destyds berig dit gaan die “uniform vir stylvolle vroue” word en het dit “Chanel’s Ford” gedoop. Nes dié motorvervaardiger se Model T: eenvoudig en toeganklik.

Coco Chanel in 1936 FOTO Getty Images/ Gallo Images

1940 - Klein swart mossie

Edith Piaf, die Franse folk-sanger wat in 1915 in die “rowwe” Paryse buurt Belleville gebore is, het die bynaam “Mossie van Parys” gekry omdat sy altyd in ’n swart nommertjie opgetree het. Sy het dit glo gedoen sodat mense meer op haar stem as op haar voorkoms fokus. In 1940 was Piaf, wat deur prostitute grootgemaak is, die liefling van die Paryse elite. Ná die Tweede Wêreldoorlog het haar internasionale loopbaan vlamgevat. Sy het in Europa, Amerika en Suid-Amerika gewild geraak. Haar bekendste liedjie, “La Vie en rose”, is in 1945 geskryf en het in 1998 ’n Grammy Hall of Fame-toekenning gekry. Mense kan vandag nog haar bekende klein swart rokkies by die Edith Piaf-museum in Belleville sien, asook briewe, foto’s en plate van dié ikoon.

Edith Piaf FOTO Getty Images / Gallo Images

1947 - Die New Look

In 1947 word die klein swart nommertjie ’n sleutel-item in die Franse mode-ontwerper Christian Dior  se New Look-reekse. Maar hy gee die LBD ’n nuwe voorkoms: ’n slanke middeltjie en vol, vroulike romp vir die uurglassilhoeët. Mildelike hoeveelhede tekstielstof sorg vir vroulikheid en ’n opgesmukte gevoel ná die strak oorlogsjare. In 1954 het monsieur Dior gesê: “Jy kan altyd swart dra. Vroue van enige ouderdom kan dit dra – na enige geleentheid.’n Klein swart nommertjie is noodsaaklik vir elke vrou se klerekas.”

Een van Christian Dior se "new look"-modelle. FOTO Getty Images / Gallo Images

1961 - Breakfast at Tiffany's

Mense praat nóú nog oor daardie klassieke swart rokkie van Audrey Hepburn (Holly Golightly) in die openingstoneel van die romantiese komedie Breakfast at Tiffany’s  in 1961. Ons onthou haar elegante skouers, die lang swart satynhandskoene, die vroulike pêrels . . . Dit word beskou as dié beroemdste LBD! Dis geskep deur die Franse ontwerper Hubert Givenchy,’n goeie vriend van Hepburn. Hy het twee gemaak. In November 2006 het die aktrise Natalie Portman op die voorblad van Harper’s Bazaar  verskyn in die oorspronklike rok wat vir dié rolprent ontwerp is. Op 5 Desember 2006 is een van die rokke op ’n veiling by die afslaer Christie’s in Londen deur ’n anonieme koper teen 467 200 pond (sowat R5,5 miljoen) gekoop. Givenchy het die geld wat met dié veiling ingesamel is, geskenk vir die bou van ’n skool vir armes in Kulkatta.

Audrey Hepburn in Givenchy. FOTO Getty Images / Gallo Images

2010's - Die evolusie van die LBD

Nou het die swart nommertjie geen perke nie. "Jy kan nie meer die klein swart nommer in 'n boksie druk nie. Vroue kan nou kies of húl weergawe 'n kort mini, nét bokant die knie, op die knie of kuitlengte is. Dis enigiets van 'n partytjie rok tot 'n elegente slooprok," meen die Kaapse ontwerper Errol Arendz.

Bekendes soos Alicia Vikander (links) en Natalie Portman druk hul eie stempel op die LBD af. FOTO Getty Images / Gallo Images