Op Sondag 8 Desember is Zozibini Tunzi se naam uitgelees as die nuwe Mej. Heelal. Oscar-wenner Viola Davis en kletskoningin Oprah Winfrey was van die duisendes wat kort ná haar kroning vir Zozibini gelukgewens het. 

Voor die kroningsaand het sy 366 000 volgelinge op Instagram gehad, nou het sy 1,8 miljoen.

’n Paar weke voor haar kroning het SARIE.com met haar gesels. “Ek het nie vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf omdat ek gedink het ek is die mooiste nie, inteendeel, niks aan my is konvensioneel nie. Ek wou eerder my stem laat hoor en ’n verskil maak in my gemeenskap en in my land,” het Zozibini toe gesê.

Haar rok laat steeds die kuberruim gons. SARIE.com het kort ná haar kroning met die ontwerper Biji van Biji La Maison Couture gesels. Lees die volledige onderhoud hier

Haar rok het uit 138 000 krale bestaan en 1400 uur geneem om te voltooi.

Onthou jy nog die vorige wenners se rokke? SARIE.com kyk terug.

Mej. Heelal

Margaret Gardiner

In 1978 is Margaret Gardiner, toe net 19, as Mej. Heelal gekroon. Sy was die eerste Suid-Afrikaner wat dié gesogte titel verower het. Margaret het ’n satynrok gedra met blinkerblommetjies.

FOTO’S Instagram

Demi-Leigh Nel-Peters

In 2017, 39 jaar ná Margaret se kroning, is Demi-Leigh aangewys as Mej. Heelal. Sy het treffend in ’n noupassende kristalrok gelyk.

Die ontwerper Anel Botha het destyds aan Fanie verklap: “Die rok bestaan uit twee lae Turkse netmateriaal in vleeskleur, met sowat 30 000 Swarovski-kristalle – ja, nét Swarovski-kristalle – wat een-een met die hand aangebring is. Ons het dus die tekstuur vir die materiaal self geskep deur die stene. Ek het die patroon vir die stene met die hand op die rok oorgedra, voor en agter, waarna sewe van my personeellede die stene aangebring het.”

FOTO’S Getty Images / Gallo Images

Zozibini Tunzi

In 2019, ’n maand ná die Springbokke die Wêreldbeker verower het, is Zozibini Tunzi gekroon.

Volgens Magdel Muller, SARIE-stilis, is Zozibini se rok treffend, sexy en stylvol.

“Dis asof sy Suid-Afrika se eie Wonder Woman is. Die kraag- en skouer-effek laat my aan ’n heldin dink, en sy het beslis oornag talle vroue en jong meisies se heldin geword. Vanuit ’n mode-oogpunt is blinkers, die ombré-effek, ’n mantel-styl en lae rug groot tendense. Ek is gaande oor die rok en voel dit moet self ook gekroon word.”

FOTO’S Instagram / Zozibini Tunzi en Getty Images / Gallo Images

Mej. Wêreld

Penelope Coelen

In 1958 is Penelope Coelen as Mej. Wêreld gekroon – ’n eerste vir Suid-Afrika. Sy het in ’n satyn-eenstuk verskyn.

FOTO’S Getty Images / Gallo Images

Anneline Kriel

In 1974 is Anneline Kriel as eerste prinses in die Mej. Wêreld-kompetisie gekroon, maar vier dae later het Helen Morgan haar titel prysgegee en Anneline het toe die kroon oorgeneem. Sy het met die kroon se oorhandiging ’n pelsjas en oranje satynbloes gedra.

FOTO’S Instagram / Anneline Kriel

Rolene Strauss

In 2014 is Rolene Strauss, toe net 22, as die nuwe Mej. Wêreld aangewys. Sy het treffend in haar bloospienk Casper Bosman-rok gelyk. Die rok het ’n roos gesimboliseer.

FOTO’S Getty Images / Gallo Images