Die 44-jarige Penélope Cruz het geen bekendstelling nodig nie. Die beeldskone vrou is die eerste Spaanse aktrise wat ’n Oscar-toekenning en ’n ster op die Hollywood Walk of Fame ontvang het. Sy het verskeie flieks op haar kerfstok, en sy was onlangs in die gewilde tv-reeks, Assassination of Gianni Versace, te sien.

En nou neem sy die modewêreld oor!

Penélope is pas aangewys as die gesig van die Chanel-handelsmerk. Vir haar is dit ’n kleintyd-droom wat waar geword het. “Dit is ’n ikoniese handelsmerk wat ek al van kleins af bewonder. Dit is ’n groot voorreg om saam met Chanel te werk. Boonop is Karl Langerfeld [die direkteur van Chanel], die koning van mode,” het sy aan Harpers Bazaar vertel.

FOTO Getty Images

En dit stop nie daar nie. Sy het ook haar eie juweel-reeks in samewerking met Swarovski bekend gestel.

FOTO Getty Images

Aan die begin van die jaar het sy die rol van Donatella Versace, mode-ontwerper en direkteur van Versace, vertolk in die reeks, Assassination of Gianni Versace. Penelope het eers toestemming by Donatella gevra voor sy die rol aanvaar het. En sy het die mode-ontwerper vir maande bestudeer om haar geloofwaardig te vertolk.  

FOTO Getty Images