Op haar grootste dag trou sy in ’n verruklike rok van een van die wêreld se bekendste ontwerpers, Vera Wang. Sy lyk beeldskoon, die bloospienk rok wat die lig met elke draai weerkaats, is vir haar gemáák. Maar dit kos nie ’n fortuin nie en boonop het sy bygedra om die aarde te red, sê die bruid.

Sy vertel: “Ek was nie lus vir trourok aanpas nie en het geweet ’n wit meringue-rok gaan nie vir my werk nie, toe begin ek loer op die aanlyn verkooptuiste eBay, waar verbruikers direk aan mekaar verkoop.” 

En daar sien sy haar droomrok. Met die klik van ’n muis was dit hare. “Dit was die goedkoopste item op die troue,” lag sy.

Aan die woord is Emtia Morrison Potgieter van Pretoria, wat in Desember getroud is. Emtia koop graag klere by tweedehandswinkels, snuffel ware by antiekwinkels uit en kyk ook op Facebook Marketplace uit vir winskopies – vir enigiets van klere tot meubels. “Ek hou nie van nuut-nuut nie. Ingeleefde, ou elegansie spreek tot my. En dit is wonderlik om ook so te help om die aarde te beskerm.”

Emtia is deel van ’n groeiende groep verbruikers wat die herverkoop-tendens (in Engels recommerce) volg. Dit is maar net ’n gonswoord,’n kombinasie van die tweedehandskultuur wat deel geword het van die daaglikse lewe en oorgespoel het na die internet (e-commerce), waar mense hul produkte aanlyn direk aan ander kan verkoop op markplekke soos Facebook Marketplace, Poshmark, Depop en thredUP wat die laaste paar jaar die lig gesien het.

Tans is dit ’n witwarm trend, en ook SARIE ondersteun dit. Ons nuwe webtuiste, Verkoop my rok, is die antwoord vir baie bruide wat inspirasie op ’n praktiese en haalbare wyse vir hul groot dag soek. Hier kan jy trourokke koop en verkoop. Alles gebeur aanlyn en binne die SARIE-wêreld. Annemie Lombard, digitale redakteur van SARIE.com, sê dié projek sluit aan by 2020 se fokus op volhoubaarheid, wat ’n groot tendens in die kleinhandel en ook troubedryf is. “Mense is bewus van hul uitgawes én die uitwerking van hul koopgedrag op die omgewing. Baie bruide kan dit nie bekostig om duur rokke te koop wat vir jare ná die groot dag nog in die hangkas hang nie,” sê sy.

Vanjaar het verskeie sterre by die Oscars ook hul deel vir volhoubare modes gedoen. Só het Saoirse Ronan ’n rok gedra wat van haar Bafta-rok gemaak is, en Elizabeth Banks het dieselfde rooi nommertjie na die Vanity Fair-partytjie gedra as in 2004 (sy het net die juweelversierings op die rug verwyder). En Jane Fonda, die ewige aktivis, dié keer vir die omgewing, het gepryk in die wynrooi Elie Saab-skepping wat sy in 2014 by die Cannes-rolprentfees gedra het. Die rooi baadjie oor haar arm, het sy gesê, is haar laaste klere-aankoop ooit.

Ook Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur, meen verbruikers raak al hoe meer bewus van etiese vraagstukke rondom klere-aankope. Hy stileer graag vir voorblaaie met klere wat hy by tweedehandswinkels soos Wizards Vintage in Johannesburg leen.

Dit is veral millenniërs, gebore van 1980 tot die laat 90’s, en generasie Z (laat 1990’s tot 2012) wat die tendens omarm. Dié groepe doen twee keer soveel “recommerce”-aankope as ouer kliënte, volgens GlobalData,’n groep onafhanklike Amerikaanse marknavorsers. (practicalecommerce.com).

Rina Strydom, tans besig met ’n opwindende modesakeplan, het in 2019 ’n meestersgraad in volhoubare mode met “recommerce” as tema aan die Savannah College of Art and Design in Georgia, Amerika, verwerf. “Toe ek as klereaankoper in Suid-Afrika gewerk het, het ek besef daar word te veel klere gemaak vir mense se behoeftes. Die koopsiklus is uit balans. Verbruikers moet leer om meer bewustelik te koop, sodat ons nie die aarde versmoor nie.” Rina reken haar oulikste klere is “tweedehands”, geskenke van ’n vriendin of familielid, of items wat sy by ’n Hospieswinkel aangeskaf het. “Mense volg blindelings trends in modewinkels, wat in ieder geval ’n herhaling van ou dinge is. Dit hardloop in sirkels ...”

Sy sê herverkope is besig om die wêreld oor te neem. ThredUP (’n aanlyn ekwivalent van die tradisionele liefdadigheidswinkel wat items wat aan hulle geskenk word, teen ’n wins verkoop) het bevind een uit drie Amerikaanse vroue (sowat 44 miljoen) het in 2017 tweedehandse klere gekoop teenoor 36 miljoen die vorige jaar. Enigiets van klere, meubels, elektroniese toerusting soos oorfone en rekenaars, boeke, motors, kamptoerusting en meer word herverkoop.

Rina het vasgestel millenniërs volg dié tendens omdat hulle oorgeskakel het na aanlyn aankope, juis omdat hulle gemaklik is met elektroniese interaksies. “Ek reken Generasie Z, ook bekend as die ‘woke’ generasie, is die toekomstige teikenmark waaruit nuwe inisiatiewe rakende volhoubaarheid sal groei. Hulle is meer bewus as ander groepe van politieke en omgewingskwessies.” (“Woke” mense is diesulkes wat bewus is van veronderstelde onregte in die samelewing.) Die millenniërs en Generasie Z, voeg sy by, strewe na identiteit en wil iewers behoort.

“Hulle vind dié gemeenskap aanlyn. En omdat hulle so sigbaar is op sosiale media, koop hulle meer gereeld klere as vorige generasies. Want ’n mens sien hulle meer dikwels en hulle moet elke keer anders lyk as hulle byvoorbeeld poseer op Facebook of Instagram. Vintage en tweedehandse klere pas hul sak beter ... Onthou, ons het te make met mense wat kitsbevrediging soek en dít kry hulle veral aanlyn. Hulle kan vinnig bekostigbare produkte kry. Hulle hoef nie eens winkel toe te gaan nie.”

Die aktrise Rolanda Marais, bekend vir haar vintage-klerestyl, sê: “Die hedendaagse ‘koopkoors’ grens soms aan banaliteit. Mense gooi te maklik uit en koop ‘kraakvars uit China’. Ek probeer my deel vir die aarde doen deur tweedehandse, goed vervaardigde klere en meubels te koop, gewoonlik plaaslik, om talentvolle kreatiewes op eie bodem te ondersteun. Nie alleen is dit ekonomies nie, maar dikwels ook van beter gehalte, tydloos en dit vertel unieke stories. Daar is iets romanties daaromtrent.”

Rolanda snuffel in tweedehandswinkels rond, maar besoek ook webtuistes vir vintage-goedere en volg mense op Instagram wat aanlyn klere verkoop. Dit is alles goed en wel, maar gaan dié nuwe kooptendens nie bestaande kleinhandelaars versmoor nie? Volgens Coresight Research, wat marknavorsing doen oor handel en tegnologie en veral op China fokus, groei herverkopehandelaars twintig keer vinniger as die algemene handelaar en vyf keer vinniger as handelaars wat splinternuwe luukse goedere teen laer pryse voorsien.

Rina reken die nuwe kooptendens sal vir seker gewone handelaars se wins laat krimp, maar dit skep elders ook ander moontlikhede. Sy verwys na “upcycling”, waar oorspronklike produkte in iets nuuts herskep word, soos ’n hemp wat ’n rok word. Of “downcycling”, waar weefsel van oorspronklike items, soos ’n baadjie, gebruik word om ’n laegraadse produk, soos ’n vatlappie, te vervaardig.

Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur, sê: “Volhoubare klere gee verbruikers ’n groter verskeidenheid as ooit – van klere tot bykomstighede kan aanlyn of in tradisionele winkels gekoop en verkoop word. Die vintage-tendens is groot. Ek het ’n passie daarvoor – dit is soos om ’n skatkis vol items te ontdek wat unieke flair aan jou styl gee. Boonop keer dit dat so baie daarvan op stortingsterreine beland.”

Sy vertel van die Sweedse kleremaatskappy H&M, wat bekend is vir hul volhoubare Conscious Exclusive-klerereekse (een van vele) wat sedert 2012 verkoop word. Hierdie reekse fokus veral op die gebruik van herwonne materiaal. En vanjaar gebruik H&M die eerste keer Vega, ’n veganistiese leer gemaak van die byprodukte in die wynbedryf, soos druiweskille, takkies en sade. Ander materiale wat gebruik word, sluit in Circulose (gemaak van herwonne katoenklere), Econyl (’n nuwe materiaal van herwonne visnet) en selfs herwonne glaskrale.

“Daar is gewoon te min hulpbronne om by te hou met die vraag na klereproduksie,” meen Rina. Ons put die aarde uit. Maar, sê sy: “Ons kan nader beweeg aan ’n sirkelekonomie – deur minder weg te gooi, minder te vervaardig en dinge langer te laat leef. Ons probeer ook om minder koolstofdioksied vry te stel en minder water en elektrisiteit te gebruik en om afvalstortings skoon te hou. Dán kan ons die sirkel toemaak.”

Isabella Niehaus, blogger, kosghoeroe en mode- en dekorstilis van die Weskus, het jare gelede al besef as mensekinders nie ingryp nie, gaan ons die aarde verloor. Sy verpes dit om te mors. In haar jare as moderedakteur van SARIE (1991 tot 1998) het sy gereeld in Parys langs die loopplank gesit en prêt-à-porter (pasklaar)-modevertonings bygewoon. “Die uitnodigings, geskenkies en persvrystellings was beeldskoon. Klere-aankope is in die mooiste pakkies gesit. Getrou aan my liefde om alles te bêre het ek met die mooiste sakkies teruggekom huis toe.” Een van haar vriendinne, SARIE se redakteur Michélle van Breda, en ander pêlle, onthou hoe Bella met dié pakkies kon toor. Sy sou wanneer sy geskenke gee bo-op die handelsnaam van die weelderige pakkie ’n groot lint plak, soms met ’n collage van prente en letters bo-op. Altyd so pragtig versier dat dit soos iets uit ’n sprokie lyk.

Deesdae gee sy nuwe lewe aan haar Nespresso-koffiesakke. “Stilis Hannes Koegelenberg het my geleer hoe om blomme uit koerantpapier te maak. Ek sny ook ou tydskrifte op en maak blomblare en tooi dié sakke met ’n groot strik. Daar is ’n wonderlike lekkerte om vir iemand sy eie geskenksak wat by sy persoonlikheid pas, te skep.” En daarmee saam eer Bella die natuur.

Rina glo herverkope gaan al hoe meer toeneem. Dit het van Amerika oorgespoel na Brittanje en die golf spoel al hoe verder. Die lekkerte van die tendens is jy kan altyd in die mode wees as jy mooi dink en vooruit beplan. “As jy weet rooi stewels is in, dan soek jy dit uit by ’n vintage-winkel of aanlyn. En jy voel boonop goed oor jouself omdat jy weet jy maak ’n sinvolle keuse wat help om die omgewing te red.”

Die volgende groot stap in hergebruik is die deel-ekonomie, waar mense items deel eerder as om elkeen sy eie te koop. Rina verduidelik dit is soos vriendinne wat op universiteit rokke onder mekaar uitgeruil het vir spesiale danse of temapartytjies. “So kan ons klere met mekaar deel en dan verleng ons saam die leeftyd van elke stuk, en deur minder nuwe items te koop verminder ons saam die impak op die omgewing.” Waarvoor wag ons? Kom ons hou ’n klere-ruilpartytjie en ruil items uit wat ons nooit meer dra nie – so raak ons ontslae van ou klere en ontdek mekaar se skatte. En die aarde sal juig. 

HOEKOM TE VEEL KLERE DIE AARDE UITPUT
Rina Strydom verduidelik: In 2015 is 98 miljoen ton rou materiaal vir die vervaardiging van tekstielstof uit die aarde ontgin. Na raming sal dit teen 2050 verdubbel. Krag, water en chemikalieë word gebruik om tekstielstof te vervaardig – maar in die proses word afvalstowwe dikwels nie verantwoordelik verwyder nie en beland dan in waterstrome of op afvalstortingsterreine naby fabrieke. Gifstowwe word in die grond en water afgeskei – wat skadelik is vir mens, flora en fauna. Met die verskeping van produkte na hul bestemming word olie verbrand wat koolstofdioksied vrystel – wat ook die omgewing besoedel. Voeg daarby dat verbruikers hul klere té dikwels was en water- en elektrisiteitsbronne verder uitput. Mense gooi ook dikwels onnadenkend klere weg en dit beland op die ashoop, waarvan die wêreld reeds oorvol is, met niemand wat weet hoe om van die oortollige rommel ontslae te raak nie. Dit is ’n bose kringloop.

Besoek Rina Strydom se webtuiste hier