Jy het dit nie verwag nie, maar tussen daardie hoop tweedehandse klere het jy ’n juweel raakgeloop. Daai stukkie vintage wat vir ewig deel van jou klerekas kan wees. 

Ja, om vintage-items by jou klerekas in te korporeer kan sorg vir ’n vars en unieke styl.

Kyk maar net vir die beeldskone en talentvolle aktrise Rolanda Marais. Haar klerekas floreer omtrent met vintage-items. Sy lyk altyd stylvol en in die kol, of dit op die rooi tapyt is of net in haar agterplaas.

Hier is van haar (vele) stylvolle oomblikke:

View this post on Instagram

A post shared by Rolanda (@rolandamarais) on

Die SARIE-modespan het vandeesweek ’n virtuele werkswinkel van BLOOM Gin se LiveFullBLOOM AW2020 bygewoon. Nie net het ons geleer oor al die tendense vir Herfs/Winter 2020 nie, maar die ontwerper Gert-Johan Coetzee en aktrise Leandie du Randt het ook hul wenke gedeel. Oorgroot baadjies is groot die winter!

Jacquie Myburgh Chemaly, stigter van Vintage with Love, het ook wonderlike raad vir as jy items wil aanskaf.


Wenke om vintage te koop

Hier is Jacquie se wenke:

1. Koop met ’n valkoog

Ja, soms is daar ’n rede hoekom mense items uitgooi. Die ritssluiter kan stukkend wees, die materiaal ongemaklik, dis dalk skeef gesny of net nie prakties nie. Kyk mooi voordat jy iets aanskaf.

2. Soek vir die ontwerpers

Min van ons kan sommer by Dior, Dolce & Gabbana, Chanel of Vera Wang inwals en van die rakke iets koop. Gelukkig is daar altyd die ontwerpernommertjie weggesteek in die vintage-winkels én dis baie meer bekostigbaar. Maar moenie net koop oor dit nou Chanel is nie, vra die volgende vrae: Pas dit jou en jou styl? Sal ek dit meer as een keer dra? Het ek dit nodig?

3. Leer, meneer

As jy leer- of sweedseleer-items nuut koop, is dit baie duur. Maar soek daarvoor in tweedehandswinkels, wie weet ... jy vind dalk daai winskopie.

4. Jas wat netjies pas

Van jou mooiste en mees unieke jasse kruip weg in vintage-winkels. Indien jy vir jou ’n netjiese jas of baadjie wil aanskaf, begin soek by dié winkels. Dis goedkoper!


5. Snuffel oorsee

As jy bevoorreg is om oorsee te reis, besoek gerus vintage-winkels ... jy sal altyd iets unieks vind. Maar moenie van jou plaaslike vintage-winkels vergeet nie. Wat jy in Johannesburg raakloop, sal jy dalk nie in Kaapstad vind nie.

6. Drie maande

Is die item steeds te duur? Kom terug ná drie maande. Ja, hierdie winkels merk ook klere af ná drie maande. Partykeer wag daai item net vir jou.

7. Soek hoog en laag

Moenie vinnig deur ’n winkel loop nie, elke hoek en draai versteek iets. Besoek ook gereeld die winkel.