Die 64-jarige kletskoningin Oprah Winfrey straal weer op die voorblad van haar tydskrif, O, The Oprah Magazine! In die Noorde is herfs om die draai en vir die September-uitgawe vier Oprah dit met ’n goudgeel uitrusting. 

FOTO Oprah Winfrey Magazine

Volgens Jorika du Plessis, mode-intern in die SARIE-kantoor, simboliseer geel warmte, geluk, positiwiteit, lojaliteit, eer en optimisme. En ons glo Oprah straal al hierdie eienskappe uit.  

“Nie almal wil geel dra nie, maar Oprah doen dit baie goed,” meen Jorika. Volgens haar lyk geel veral goed by mense met ’n donker vel of hare. En as mens so na Oprah se tydskrifvoorblaaie oor die jare kyk, is geel beslis een van haar gunstelingkleure.

Baie vroue is skrikkerig om geel te dra, maar dié kleur trek dadelik die aandag! Die geheim is om die skakering te kry wat by jou vel pas. Van sitrus en goud tot mosterd – daar is báie ...

Hoe dra jy geel?

* As jy ’n ligte vel het, kies eerder ’n mosterdgeel.

* ’n Donker vel staan pragtig uit teen ’n heldergeel skakering. Sorg dat jou vel goed bevog is vir ’n ekstra glansryke voorkoms.

* Meer waaghalsiges kan geel saam met ander helder kleure soos blou of pienk dra – dink aan die kleurblok-trend.

* Pastel- en ligter kleure soos taankleur en grys lyk ook mooi saam met geel.

* As ’n geel uitrusting van kop tot tone nie vir jou is nie, dra net geel bykomstighede – soos oorbelle of ’n halssnoer.