Donderdag | 21 Junie 2018

Soos die vorige twee dae word die kos onophoudelik ingedra. Almal smul te heerlik aan Herman se kos. Ons weet ons gaan nie gou weer só 'n voorreg hê nie! Amaria het vir ons terugvoering gegee oor ons werklêers en nou kyk ons 'n film oor al die moderedakteurs van die tydskrif Vogue. Elkeen vertel hoe hulle die modeblaaie benader het en dit is interessant om te sien hoe elkeen se persoonlikheid 'n invloed gehad het op die tydskrif se algehele voorkoms.

SARIE-modeskool
SARIE-modeskool
SARIE-modeskool

Dan vertel Michélle ons meer oor voorblaaie en die belangrikheid daarvan. Die tydskrif steun baie sterk op hierdie pilaar. Sy en Fanie Cronjé, ster-stilis, is verantwoordelik hiervoor.

Ek kyk op ons rooster en sien volgende ontmoet ons 'n gasspreker. Wie sal dit wees? wonder ek.

Amaria wink my en nog 'n paar kursusgangers nader en saam klim ons in die werksmotor. Ons ry 'n hele ent sonder dat ek kan agterkom waarheen ons op pad is. "Dis die Levi's-fabriek!" sê iemand.

Al studeer ek mode-ontwerp en het ek al 'n agter-die-skerms-film daaroor gesien, is dit my heel eerste keer dat ek in lewende lywe daar sal wees. Ons volg die proses vanaf die druk van die patroon tot aan die einde waar die denim geskeur en gevlek word. Ek is verbaas oor hoeveel werk die mans en vroue elke dag baasraak. Hulle stik onophoudelik. Ek sal definitief anders na my jeans kyk volgende keer as ek dit aantrek.

Terug by die SARIE-kantoor hang die foto's van ons modesessies teen die muur! Ons almal is baie in ons noppies met onsself. Ek begin besef hoe noodsaaklik goeie spanwerk is. Elkeen het 'n bydrae gelewer - van die fotograaf tot die uitlegkunstenaar.

SARIE-modeskool
SARIE-modeskool
SARIE-modeskool

Dan groet die SARIE-span ons met warm kos, drankies en geskenkies. Elkeen se naam word uitgeroep en 'n sertifikaat oorhandig wat sê jy het die modeskool voltooi. Elkeen kry 'n SARIE-tydskrif en 'n selfdoengids om huis toe te neem en selfs serpe word uitgedeel - ek dink SARIE is bang ons kry koud hierdie winter.

SARIE Modeskool was 'n voorreg om te kon beleef en ek het meer geleer as wat ek kon hoop. Van bloedjonk tot ouer, laf tot stil. Hiér is plek vir almal.

SARIE-modeskool
SARIE-modeskool
SARIE-modeskool