’n Goeie paar stewels is noodsaaklik in elke vrou se klerekas - ja, selfs diegiene wat nie modeslawe is nie. Hoekom? Stewels kan saam met soveel uitrustings stileer word. Dink maar aan die eenvoudige denimbroek, wit T-hemp en leerbaadjie. Stileer die uitrusting saam met stewels wat ’n effense hak het en jy lyk dadelik chic en stylvol.

FOTO Instagram / Street Style Paris

In die nuwe normaal moet ons elke sent omdraai, dit beteken die aanskaf van nuwe skoene en nuwe klere, tensy noodsaaklik, is nie nou eerste op ons kooplys nie. Maar hoe gemaak as jou stewels beroerd lyk? Hier is vier wenke wat jou dalk geld kan spaar.  

1. Nuwe sole

Blaas nuwe lewe in jou stewels en vat dit na ’n skoendokter toe. Om selfs net die stewels se sole te vervang gaan ’n reuse verskil maak ... en as dit leerstewels is vryf dit blink!

2. Ai, die ritssluiter!

Hier is die skoendokter ook jou antwoord! Moenie die stewel weggooi as die ritssluiter gebreek is nie. Jy kan dit laat regmaak. Dit gaan jou steeds goedkoper uitwerk as om ’n nuwe paar te koop.

3. Stewels lyk oud en verniel

As dit nie leer of sweedseleer is nie, kan jy blinkers en gom gebruik! Jy lees reg: Ek het my stewels al met blinker naellak geverf. Verf jou hele stewel of net die voorste punt met gom en gooi dan die blinkerstof oor, terwyl dit nog nat is. Ander opsie? Gebruik sproeiverf.


4. Vuil sweedseleer stewels

Is jou stewels vol modder en vuil? Borsel die modder liggies af wanneer dit droog is. Jy kan ook die merke probeer verwyder met wit asyn, maar doen hierdie op eie risiko. 

FOTO Instagram / Street Style Paris