Dis 'n nuwe jaar en dit beteken net een ding: 'n nuwe trouseisoen breek aan. Maar wat mag jy as gas na 'n troue toe dra? En waarvan moet jy liewer wegbly? Die SARIE-modespan het 'n paar riglyne wat jou soektog na 'n uitrusting dalk makliker gaan maak. 

Onthou: Dis nie jou dag nie, jy's 'n gas wat die spesiale geleentheid meemaak en net moet geniet. So die fokus is nie op jou nie, maar dit beteken nie jy moet soos Aspoestertjie lyk nie!

Dagtroues

Blompatrone en ligter of metaalkleurige items is perfek vir 'n dagtroue. Dis somer, vermy dus materiaal wat te warm is of nie "asemhaal" nie, soos sintetiese fluweel. Rokke is die perfekte keuse, maar jy kan ook 'n semiformele maksi-, midi- of miniromp dra (maak net seker laasgenoemde is nie te kort nie). 'n Liggewig-pak is ook perfek en boonop gemaklik.

A post shared by Caitlin (@cmcoving) on

Aandtroues

Donker kleure is altyd gepas, en onthou, jy mag swart dra. 'n Langer rok is 'n goeie keuse, maar moenie vergeet van 'n donker of vlootblou pak nie.

'Black tie'

Dis baie formeel, so kies 'n lang rok. Hou by donkerder kleure, maar jy kan ook iets met blinkers dra (oorweeg byvoorbeeld jou matriekafskeidrok).

Strandtroues

Dis gewoonlik minder formeel. Trek 'n rok, eenstuk of romp aan wat gemaklik sit en waaraan jy nie heeltyd hoef te rem nie. Jy moet ook op die strand kan rondloop, so los die stiletto’s en trek eerder sandale aan wat jy net kan uitskop.

A post shared by Caitlin (@cmcoving) on

Vermy die volgende:

* Wit (tensy die uitnodiging anders vermeld)

* Jeans (dit geld ook swart jeans)

* Iets wat té sexy of uitspattig is

* Vernielde of gevlekte items, of iets wat te groot of te klein is

* Neem ook die paartjie se kultuur en geloof in ag. Indien jy nie skouers mag wys nie, dra iets met moue, gooi 'n serp oor of dra 'n ligte baadjie.