Daar is dae wanneer jy nie té veel moeite wil doen met jou voorkoms nie. Maar hoe trek jy dan aan om netjies maar steeds modern te lyk? Wat is “street style” oftewel straatstyl?

Dis ’n styl wat jy elke dag dra wat nie noodwendig trends volg nie, maar eerder fokus op wat by jou as individu pas.

Volgens SARIE se mode-stilis, Magdel Muller, is jou straatstyl hoe jy jouself uitdruk met wat jy dra. Dis jou unieke styl waar jy eksperimenteer, en nie iets wat jy naboots nie.

Veral die millenniër-generasie dra graag die straatstyl. Ons het die millenniërs in die SARIE-kantoor gevra wat dié styl vir hulle beteken.

Anéne de Klerk, bemarkingsassistent, meen straatstyl is trendy en kreatief. “Dit wys jou kreatiwiteit en waarvan jy hou.”

SARIE se skoonheidskrywer, Suanné Mulder, beskryf die styl as sjiek en stylvol, maar ook gemaklik. “’n Goeie voorbeeld is tekkies by ’n formele baadjie.”

Vir digitale skrywer Dean Paulse is dit jou unieke styl. “Dit is jonk en vars, maar ook baie modern en stylvol.” Dean meen as iemand jou die eerste keer raaksien, moet hulle jou kan opsom deur jou styl.

Hy en Magdel kies die 50-jarige model Eric Rutherford as ’n goeie voorbeeld van ’n man met ’n goeie straatstyl.

FOTO Getty Images/ Gallo Images
FOTO Getty Images/ Gallo Images
FOTO Getty Images/ Gallo Images
FOTO Getty Images/ Gallo Images

Mode-wenke vir jou straatstyl:

1. Daar is nie iets soos die perfekte straatstyl nie, maar wel maniere om stylvoller te lyk.

2. Vind jou styl, wat vir jou werk en wat nie.

3. Die belangrikste is dat jou klere goed pas en pas by jou liggaamsbou.

4. Vou jou moue – baadjie, hemp of jas – om. Dit skep dadelik ’n moderner voorkoms. (Mans wat hul moue omvou, se arms lyk sterker en groter!)

5. Moenie bang wees vir patrone en kleure nie, veral nie in die somer nie.

6. Wees ekonomies: Belê in swart of neutrale klere, want dit is minder ooglopend as jy dié items “baie” dra.

7. Wissel onderste items af: Dra jeans, rokke en rompe. Mans het minder items, maar kan fokus op bostukke.

8. Wys jou enkels (vou jou jeans se pype om) en speel met interessante skoene en sokkies (veral mans).

9. Dra metaalkleure bedags saam met ’n informele item (soos jeans).

10. Tekkies kan net so ’n groot stelling maak soos hakskoene! Veral as jy heeldag op jou voete is, is hakke nie die slimste nie.

11. Jy hoef nie duisende rande aan ’n uitrusting te spandeer nie. Wees slim as dit kom by koop: as jy byvoorbeeld weet die tendens is seisoenaal, moenie baie geld daarop uitgee nie en koop net een of twee items daarvan. Vir ’n meer klassieke snit, soos ’n jas, kan jy meer betaal.

ONTHOU: ’n Uitverkoping is jou beste vriend(in)!

Voorbeelde vir jou straatstyl voorkoms:

FOTO Instagram/ @bonang_m
FOTO Instagram /@camillacoelha
FOTO Instagram. @bonang_m
FOTO Instagram/@bakedonline
FOTO Instagram/ @bakedonline
FOTO Instagram/ @bakedonline
FOTO Instagram/ @bonang_m