Dis veral die Britte wat hoede nou weer gewild gemaak het met die onlangse koninklike troue van Catherine Middleton en prins William, asook die verjaardag-feestelikhede van koningin Elizabeth II en haar man, prins Philip, waar byna almal met 'n stylvolle hoed (of iets soortgelyks) te sien was.

Albertus, wat al saam met onder andere Marc Jacobs, Alexander Wang, Gap, Carolina Herrera en Proenza Schouler gewerk het, het aan The Fashion Reporter gesê dis vir hom lekker om kragte saam te snoer met Target vir 'n reeks wat meer bekostigbaar vir die gewone mens op straat is. Al die hoede sal $19,99 (sowat R140) kos.

Die tydskrif WWD berig dat ons hoede sal kan sien met modieuse afwerkings soos luiperdmotiewe, en dit lyk asof die weeskind-bykomstigheid soos Albertus die hoed beskryf, uiteindelik die erkenning kry wat dit verdien.

Hy het ook al hoede ontwerp vir Broadway-produksies soos Kiss Me Kate en Mamma Mia!, was al stylredakteur van Martha Stewart Weddings, en hy was in 2009 een van die Council of Fashion Designers of America (CFDA) se finaliste as Ontwerper van die Jaar.