Almal droom van hulle perfekte matriekafskeidrok. Party wil soos prinsesse lyk, ander wil groot en teatraal gaan. Die ideaal wat my drome gevang het, was een van majestieuse dames wat oor 'n groot dansvloer sweef met elegante mans aan hul sye. Almal is statig en trots, net soos die Victoriaanse styl.  Ek het hierdie styl gevolg met 'n stywe korset en groot valle wat plek-plek opgetrek is. Die detail oor die korset is 'n verskynsel van my persoonlikheid. Almal wat my ken, weet ek hou daarvan om te blink, en die aandag te vang met klein subtiele detail, eerder as uitbundige armbande of bloedrooi hoëhakskoene. Ek het besluit om 'n moderne gevoel aan te bring met die kleur: 'n diep lugblou of "azure." Dit was al vir jare lank my gunsteling kleur. Oorspronklik wou ek 'n wit rok hê, maar dan sou ek in blou moes trou. Dit sou nie deug nie. Daarom het ek maar met 'n blou matriekafskeid rok gegaan. Een van my vriende het my rok beskryf as "klassieke skoonheid wat deur weefwerk aanmekaar gehou is." Al wat ek kan sê, is hoe dankbaar ek is dat my Victoriaanse droom waar geword het.

Sien alle inskrywings