Tommy Hilfiger het onlangs aan die blog TMZ vertel dat hy van sy jeans nooit was nie. En dít het ’n debat in die modewêreld begin - hoe gereeld moet jy jou jeans was?

Tommy Hilfiger, stigter en ontwerper van sy eie luukse modehuis wat bekend is vir hul denimreeks, Hilfiger Denims, het verlede week geskok gelyk toe iemand hom vra of jy jou jeans moet was elke keer nadat jy dit gedra het. Hy het geantwoord: "Nee, nooit. Hulle sal uitmekaarval. Ek's mal daaroor as hulle ingeloop is".

Dit is nie net Tommy wat nie daarin glo om sy denims te was nie. Die bekende Amerikaanse nuusleser Anderson Cooper het gesê hy dra elke dag ’n denim, maar was dit net 4 keer per jaar.

Intelligent Life meen dat denim-materiaal in tye ontwerp is vir en gedra is deur mense wat nie veel gepla was met skoon klere nie. Daar is uiteenlopende stories oor wie dié materiaal ontwerp het, maar of dit nou vir die Italiaanse soldate in die 19de eeu was, die mynwerkers in Amerika of die Amerikaanse cowboys,een ding is vir seker: Jou denimbroek hoef nie baie gereeld gewas te word nie - mits dit goeie jeans van regte denim-materiaal is. Die broeke met baie rek in (spesialiteitsdenims) moet meer gereeld gewas word.

SARIE.com se modespan het navorsing gedoen oor hoe presies jy jou denim moet was.

Hoe en hoe gereeld om jou jeans te was

As jy steeds bietjie skrikkerig is vir die idee om baie selde jou jeans te was, maar nie die broek wil beskadig nie, volg dié raad:

  1. Probeer so lank moontlik wag voordat jy jou jeans was. Dit is veral belangrik voordat jy dit die heel eerste keer was,want die kleur in die materiaal het dan nog tyd nodig om te set.
  2. As jy nie aktief in jou jeans is nie, kan jy dit aan die einde van die dag uitdop sodat die binnekant deur die aand kan 'asem haal'.
  3. Sodra jou jeans om jou middel, by jou knieë en by jou sitvlak uitrek, weet jy dit is tyd vir ’n was.

Was dit só:

  1. Vul jou bad of wasbak met koue water (Om die kleur ligter te maak of jou broek te laat krimp, was in warm water.)
  2. As jy jou denim donker wil hou, draai die binnekant na buite
  3. Laat lê jou jeans in die water met ’n sagte seep vir sowat 45 tot 60 minute
  4. Druk die meeste water saggies uit
  5. Hang jou broek op om droog te word
  6. Lees hieronder van nóg ’n interessante metode om jou jeans skoon te maak!

Water<Less denims

Levi's het in 2011 hul volhoubare denimreeks, Water<Less, bekend gestel. Die jeans gebruik minder water om te vervaardig én hulle moedig gebruikers aan om dit waterloos te was.

  • Meer as 3 000 liter water word gebruik om één jeans te maak - dit sluit in die water wat nodig is om die katoen te kweek, in die fabriek én die gebruikers wat dit was.
  • Dié denims gebruik 28% minder water om te vervaardig.
  • Die gebruikers was hul jeans deur dit vir 24 uur in ’n plastieksak in ’n vrieskas te los. Dít sal blykbaar die kieme in jou broek doodmaak en sodoende die noodsaaklikheid om dit te was, verminder.

FOTO: Rakke vol denims in die Tom Tailor-winkel in Edgars (Instagram) FOTO: Rakke vol denims in die Tom Tailor-winkel in Edgars (Instagram)

Kry jou jeans by dié nuwe winkels

FOTO: PAIGE denims se roosgoud denimbroek FOTO: PAIGE denims se roosgoud denimbroek

- Paige is ’n luukse denim-handelsnaam wat sedert vanjaar in Suid Afrika beskikbaar is by uitsoek-boetieks. Vir meer inligting of vir jou naaste Paige-handelaar, besoek www.paigeusa.com of stuur ’n e-pos aan roy@curitz.com / mica@curitz.com.

- Cotton On maak vandag (Donderdag, 31 Oktober) ’n splinternuwe winkel in Stellenbosch oop. En die partytjie gaan groot wees - die musiekgroep Pascal & Pearce, die radio-persoonlikheid Poppy Ntshongwana en ander platejoggies gaan klante vermaak tot die einde van die naweek! Besoek die winkel naby die Eikestad-winkelsentrum of skakel 021 552 0726 / 011 784 2418 vir meer inligting.

- Tommy Hilfiger het ’n nuwe winkel oopgemaak in die Sandton City-winkelsentrum. Dit is die tweede Tommy Hilfiger-winkel in Suid-Afrika. Die eerste een is in die V&A Waterfront in Kaapstad.

Bronne: Intelligent Life, Mail Online, Nudie Jeans, Valet. en NY Times.