Neem jou sitplek in die voorste ry, want dít is jou kans om Suid-Afrika se beste ontwerpers te sien!

Hier is Suid-Afrikaanse ontwerpers se voorspellings en inspirasie vir Somer - perfekte tydsberekening vir die son wat sy kop so bietjie-bietjie begin uitsteek - by Kaapstad se Lente/Somer 2013-modeweek:

(Klik op die foto’s om te vergroot)

Dag 1:

Die Kaapstadse Modeweek het Woensdagaand, 7 Augustus, afgeskop met vertonings van Ernest Mahomane en Milq & Honey. Dié twee baie uiteenlopende klerereekse het een sterk gemene kenmerk gehad: gesofistikeerde snitte.

Dag 2:

Dag 2 se ontwerpers het tred gehou met internasionale ontwerpers wat fokus op lospassende klere en beweeglikheid. Uitrustings was of kleurryk en van patroon-materiale, of dit was monochroom in swart-en-wit.

Ontwerpe deur Suid-Afrika se bekendste name soos Rosenwerth, Cheryl Arthur en Habits is ook dié dag vertoon. En Adriaan Kuiters, gesogte ontwerper van mansklere, het onder groot applous sy eerste vrouereeks bekend gestel.

Dag 3:

Dag 3 was propvol verrassings met elke reeks wat sy eie stem en inspirasie gehad het. Daar was iets vir elke smaak - van tropiese swemklere tot sirkus-geïnspireerde ontwerpe en uitsoek-trourokke!

Veteraan-ontwerpers Stefania Morland en Johannesburg se Leigh Schubert het saam met nuwer bekendes soos Michelle Ludek, Danielle Margaux en Non-European hul reekse vertoon. Vertonings deur die jong ontwerpers van Shana, Spilt Milk en LO, en Dax Martin se swemklere, was ook gewild.

Die dag is afgesluit met 'n Stefania Morland-skepping: ’n wit trourok met renoster-motiewe, gedra deur ’n model met ’n kopstuk van kuns-renosterhorings. ’n Pleidooi dat ons meer moet omgee vir Suid-Afrika se renosters.

Dag 4:

Te midde van groot spanning, onderlangse spekulasie en lang afwagting het dag 4 uiteindelik aangebreek. Dié ongedurigheid was omdat David Tlale se eerste mansklerereeks gewys sou word by ’n plek wat tot op die nippertjie geheim gehou is.

Die busse het toeskouers by die Kaapstadse Konferensiesentrum opgelaai en hulle na ’n half-geboude hoofpad in Kaapstad geneem. Dié pad was omskep in ’n 80 meter lange loopplank van teer. Die agtergrondmusiek is verskaf deur tradisionale Afrika-kunstenaars wat deur die hele vertoning gedans en musiek gespeel het. ’n Dramatiese swart rok wat as't ware bo die loopplank gesweef het, het die vertoning afgesluit.

Die res van die dag was daar volop kleur, patrone, en interessante kombinasies van tradisie en moderniteit. Kyk net na dié innoverende uitrustings:

Gaan besoek die SARIE-winkel vir al jou plaaslike ontwerpersklere!

**Alle foto’s deur SDR Photo/Simon Deiner