Dis die hoogtepunt op die Hollywood-toekenningskalender, maar ook 'n mode-hoogtepunt waartydens ontwerpers skarrel om gróót name in Hollywood in hul beste ontwerpe te klee – in die meeste gevalle ook dié ontwerpers se muses.

Jennifer Lawrence, die voorloper in die 'beste aktrise'-kategorie van die 2013 toekenningseisoen, is tans die gesig van Miss Dior en sal moontlik in 'n wenner uit dié modehuis se nuutste hoogmode-reeks kies. In 'n vroeëre onderhoud het sy gesinspeel dat sy eerder drama as gemak in ag sal neem vir haar Oscar-rokkeuse. Ons kan nie wag nie!

Sexy rooikop, Jessica Chastain, is 'n groot aanhanger van Sarah Burton van Alexander McQueen – natuurlik ook die skepper van Kate Middleton se asemrowende trourok.

Anne Hathaway as die tragiese Fantine in Les Misérables het nog met elke beeldjie tydens dié jaar se toekenningseisoen weggeloop. Haar noue vriendskap met die ontwerper Valentino het Vogue amper seker dat sy die beeldjie in een van sy skeppings sal gaan haal. Hy was ook die ontwerper van haar trourok. Op die hoogmode-loopplank het Valentino 'n voorliefde gewys vir monotoon-kleure en veral silwer.

Amy Adams hou daarvan om op die rooi tapyt te verras en daarom glo Vogue gaan sy heel moontlik 'n gestruktureerde rok uit die Giambattista Valli-hoogmode-reeks kies.

Naomi Watts weet áltyd hoe om 'n elegante dog opwindende modestelling op die rooi tapyt te maak. Gaan ons haar dalk in nóg 'n Stella McCartney – 'n goeie vriendin – sien?

Adele gaan haar benoemde James Bond-Skyfall-temalied by die Oscars sing. Ons hoop werklik sy dra nie dié keer swart nie, maar dalk iets uit die pastelpalet van Elie Saab.

En ja, Charlize gaan ook daar wees – as aanbieder van een van die kategorieë. Nóg 'n Dior-aanhanger – daarom word daar geglo dat sy hierdie jaar weer dié klassieke keuse sal maak.

SIEN VOGUE SE VOORSPELLINGS HIER

ONTHOU OM TE KYK!

Die Oscars vind Sondag 24 Februarie plaas, maar sal Maandag 25 Februarie om 20:30 op M-Net en M-Net HD gewys word.

* Hou ook sarie.com dop vir die top-rokke van dié jaar se geleentheid.