Die sosiale netwerk Lookbook, waar bloggers hul persoonlike modestyl met mekaar kan deel deur foto's van hul uitrustings op te laai, het nou sy eie dramareeks ook begin. Elke uitrusting wat deur ’n blogger opgelaai word, staan die kans om deur mede-bloggers “hypes” te kry (’n hype is soortgelyk aan Facebook se like-funksie). Op dié manier kry Lookbook baie besoekers, van fotograwe en stileerders tot modebewuste tieners. Bernie Su, medeskepper van Lookbook: The Series, wil met dié reeks die verhouding tussen mode-blogger en fotograaf ondersoek. Die interafhanklikheid en gelyktydige wedywering tussen mekaar sorg vir ’n interessante storie. Die episodes is elk sowat 9 minute lank en volg die hoofkarakter, Hannah, wat na Los Angeles trek, en Mark, die jong aspirant-fotograaf wat sy daar ontmoet. Hoewel die 2 episodes wat al verskyn het met gemengde gevoelens ontvang is, het groot modehuise soos Dr Martens, Victoria's Secret, Coach en Mango reeds hul naam aan die program verbind met borgskappe. As jy so nuuskierig soos ons is, kan jy die episodes hier kyk. Wat dink jy, is dit die 9 minute werd?