Nog voor die son opkom val ons as span in die pad onderweg na Clara Anna Fontein buite Durbanville vir SARIE se Junie 2009-modeblaaie. Die oggende is al klaar kouer en almal is warm aangetrek met 'n koppie koffie in die hand. Op pad begin die son stadig maar seker opkom. Die oggendlig is net ongelooflik mooi en ons wil soveel moontlik foto’s in hierdie lig probeer skiet. Fiona toor weer met hare en grimering, terwyl ek en Antonia, die fotograaf, presies uitwerk waar elke foto geneem gaan word en hoe laat die perde gereed moet wees. Die eerste foto is asembenemend mooi – die son wat 'n sagte stralekrans optower en die fyn donsies wat byna soos sneeu lyk in die bome, maak jou onmiddellik opgewonde oor die res van die dag. Ongelukkig vang die son ons te vinnig en die mooi oggendlig is weg. Om die skerp lig wat nog 'n sterk somergevoel gee te verbloem en 'n wintergevoel te skep, skiet ons soveel ons kan in die skaduwee. Sarah, die model, is siek, maar probeer baie hard sodat niemand sien hoe goor sy voel nie. Net ná twee-uur begin die vroegopstanery vieruur vanoggend sy tol eis. Nog net 2 foto’s oor en almal gee hul beste, want dis nog 'n lang pad huis toe en die bed wink. Danksy 'n fantastiese fotograaf en 'n hardwerkende span wat hul warm beddens verruil het vir 'n lang dag, spog ons weer eens met 'n mooi modestorie.

Die eindresultaat!

Uit die Junie-modestorie