Met of sonder klere – Prins Harry bly in die nuus! Vanity Fair-tydskrif het onlangs hul besgeklede lys bekendgestel en hy deel 'n topplek op die lys saam met skoonsus Kate.

Kate Middleton sit haar modesege voort as die stylvolste bekende op dié gesaghebbende lys. Sy sit letterlik nie 'n modevoet verkeerd nie – selfs in meer informele klere soos onlangs by die Londen Olimpiese Spele gesien. Die rok wat veral uitstaan, is die seegroen Jenny Packham-skepping wat sy na die Royal Albert Hall gedra het (foto bo). Blykbaar is mode nie haar enigste sterkpunt nie en is sy ook vernuftig agter die kospotte. Sy is selfs nou besig om swaer Harry die fynere kookkunsies te leer.

Nóg 'n jong koninklike op die lys is Monaco se Charlotte Casiraghi (foto onder). Sy's die ewebeeld van haar ma, Prinses Caroline, en is beslis meer waaghalsig met haar modes as Kate. Charlotte is onlangs as die gesig van Gucci se 'Forever Now'-reeks aangewys en is selfs op die rug van haar perd stylvol in Gucci.

Charlotte Casiraghi

Die akteur Colin Firth en sy pragtige Italiaanse vrou, Livia, is sáám op die lys. Livia is ook die stigter van die Green Carpet Challenge waar bekendes eko-vriendelike rokke op die wêreld se rooi tapyte dra.

The Help-aktrise Jessica Chastain het haarself ook stewig op die lys geposisioneer met goeie modekeuses by Cannes (in 'n Gucci-rok) en die Oscars (in 'n Alexander McQueen). Sy en Diane Kruger is van die min aktrises wat die lys gehaal het. Ons was gek oor Diane se ligblou Chanel-uitskoprok met 'n swart 'paper boy' hoed by die onlangse Chanel haute couture-modevertoning in Parys.

Supermodel Gisele Bündchen se man, Tom Brady, is een van die manne wat saam met Prins Harry op die lys verskyn (en nee, David Beckham is vreemd genoeg nie daar nie!). Harry lyk goed in enigiets van 'n swaelstert-pak tot 'n gemaklike ontwerpersjean en trui.

En natuurlik sal die ander bekende McCartney – Britse ontwerper Stella Cartney – ook die lys gehaal het. Stella was die ontwerper van die amptelike Olimpiese Spele-kleredrag vir Brittanje. Sy's ook 'n gunsteling onder bekendes, maar dis veral haar vriendin Gwyneth Paltrow wat gereeld in 'n Stella McCartney-skepping been wys.

* Sien die volledige artikel in die September-uitgawe van Vanity Fair.

PRAAT SAAM: Wie is, volgens jou, die mees stylvolle bekende?